Quantcast
Channel: Nuus – Kyknet
Viewing all 357 articles
Browse latest View live

Koekedoor: Halfpad klaar, halfpad daar

$
0
0

Die Koekedore is by die halfpad-merk en daar is rede om fees te vier.

Die oorblywende vyf deelnemers stap vandag by ’n kitsch-mooi stoor in, waar Tannie Elizabeth ’n keramiek-kat staan en vryf. Sy kondig die tema vir dié week aan: “halfpad klaar is halfpad daar.”

Die Koekedore het vandag ’n verskeidenheid van halfklaar produkte tot hul beskikking, en die beoordelaars kies uiteenlopende gebak uit ander eras en bakkulture vir die geleentheid.

Vir die tuisgebak-uitdaging gooi Tannie Elizabeth die bal met ’n kurwe na muffins, met die vereiste dat dit ’n gesonder ontbythappie moet wees. Die muffin word gewoonlik as die kolwyntjie se lelike niggie afgekraak, maar vandág kry dit end.

Hy voel “soos Sneeuwitjie in die bos,” lag Wessels, omring deur ’n paar kitsch-kreature.

Sanet sê: “Met alle respek, dis nie iets wat ek graag in my huis of in elk geval op my kombuistafel wil hê nie.”

Corli dink vandag aan haar tannie Annatjie se Carletonville-huis.

In vandag se tyd is alles vars of organies, sê Kanya, wat beteken die Koekedore moet ’n belangrike kopskuif maak om goed te vaar in die uitdaging. Sy kies fyngemaakte biltong en mieliepitte.

Wilandi gebruik spek en appels (uit ’n blik) en Sanet besluit op klaargemaakte basiliekruid-pesto, ingelegde olywe, wit cheddarkaas en sprietui. Coli kies ook basiliekruid-pesto en kombineer dit met tamatie en feta, terwyl Wessels mieliemeel-, volkoring- en kaas-en-mosterd-muffins aanpak.

“As jy versiersuiker opsit is dit ’n kolwyntjie, en as jy nié versiersuiker opsit nie is dit ’n muffin,” sê Wessels. “Mense weet nie meer wat is wat nie.”

Hy voel vandag soos die muffin man van Drury Lane, want wanneer daar nog baie tyd oor is, bak hy net nóg muffins.

Mari-Louis se vriendin sê altyd: “’n Muffin is ’n cupcake in ’n skoolrok, en ’n cupcake is ’n muffin in ’n aandrok.”

Vir Sanet voel dit soos stilte voor die storm. “Dit gaan begin warm raak,” sê sy.

Kyk hier na foto’s vanuit hierdie week se episode van Koekedoor:

Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor

Vir die fyngebak-uitdaging word ons in ’n tydmasjien teruggevoer na die 1970’s. Op die spyskaart is Mari-Louis se Skandinawiese Smörgåstårta (’n sout toebroodjiekoek versier soos ’n soet grootkoek) en semlor of semla (’n Sweedse soet broodrolletjie met ’n kardemomgeur, wat in ’n poedingbakkie met geklopte room en warm melk bedien word).

Dis broodbak met ’n kinkel en beide brode gaan ewe lank neem om gaar te bak in die oond. “Tyd is knap vandag,” sê Mari-Louis, en die Koekedore moenie te veel tyd aan die vulsels afstaan nie.

“Dis soos ’n vet burger-brood,” verduidelik Sanet.

Só eet sy die olifant, “hap vir hap,” sê Kanya. Corli meen dis die mees uitdagende fyngebak-uitdaging wat die Koekedore tot op hede moes uitvoer.

Die pistasieneute word een-vir-een afgedop en Wilandi voel soos ’n budgie. “Dis ’n koek met ’n identiteitskrisis,” sê sy.

Hy is “so rustig soos ’n tydbom,” sê Wessels. Later waai dié Koekedoor se hoed, en dit raak eenvoudig té warm en té dol in die stoor.

Die pronkgebak-uitdaging is ter viering van filo. Dié 800 jaar oue papierdun deeg het eers in die 1970’s op winkelrakke verskyn. Die beoordelaars voorsien die filodeeg, en die Koekedore moet dit in ’n formidabele filo-skepping omtower.

Sanet maak filo-“bakke”, wat inmekaar pas. Sy kies sjokolade en koffiegeure as vulsels, en maak onder meer bruintjies, sjokolade-koffiebone en filo-blomme.

Wilandi sê: “Die melktert kan doen met ’n bietjie mooimaak.” Sy verf die filodeeg met bruinbotter, en plaas die filodeeg bo-op melktertpap. Sy maak ook ’n kaneelsousie.

“Ek gaan moet kyk of my melktert se pronk daardie roomkoek in die skadu kan laat,” sê sy.

Corli maak ’n soort vlaskyf, of “filo-paleis”, en elke laag bevat verskillende geure. Sy maak pistasieneut-koek, wat tussen twee lae van haar filo-skepping gaan pronk.

Kanya hou van die eenvoud van die gewone baklava. Sy kies suurlemoen, kardemom en roosgeur, en maak “pype” uit filo. Sy maak ook filo-rose.

Wessels kombineer strudel met Griekse nagereg. Sy filo-“wurm” kry ’n sponskoek en gebakte vla in die middel.

“Ek voel soos ’n olifant in ’n glaskas,” spot Wilandi. “Ek en filo het mekaar tot vandag toe nog nie rêrig geken nie.”

Kanya trek by ses rolle filodeeg en Wessels by vyf. Daar is nou ’n kompetisie tussen dié twee, sê Kanya.

Kry eksklusiewe resepte hier.

Ewe skielik kom daar ’n aankondiging: Die Koekedore het tien minute oor om hul skeppings voor te sit. Die deelnemers spartel, en dan sê die beoordelaars: Dit was net ’n grap.

“My bene was lam,” lag Kanya.

Dan breek die tyd om op te hou bak werklik aan en die Koekedore moet wag om te hoor wie word huis toe gestuur.

Wessels is die “halfpad klaar, halfpad daar”-kampioen, terwyl Wilandi die stoor moet verlaat. “Ek het baie geleer van myself,” sê sy.

Kyk hier wat sê die beoordelaars.

Kyk Koekedoor, Donderdae om 20:30 op kykNET.

The post Koekedoor: Halfpad klaar, halfpad daar appeared first on Kyknet.


Huisgenoot Tempo-toekennings: Benoemdes 2016

$
0
0

Vanjaar vier Huisgenoot hul 100ste verjaarsdag en die Tempo-toekennings beloof om onvergeetlik te wees.

Die publiek kan kies wie op 12 Julie 2016 om 19:00 by Emperors Palace in elke kategorie met ’n gesogte Tempo-beeldjie wegstap.

Om te stem, sms die letters TEM, gevolg met die kode langs die benoemde van jou keuse (sonder ’n spasie), sowel as jou naam, van en adres na 35407 voor 6 Julie 2016 om 12:00. Koste per sms beloop R1,50 en slegs 20 stemme per selfoonnommer word toegelaat.

Om aanlyn te stem, klik hier. Deur te stem staan kykers ’n kans om groot pryse los te slaan, wat onder meer ’n luukse Suzuki Ciaz 1.4 GLX MT-sedan ter waarde van R234 900 insluit.

Die publiek kan ook kaartjies vir dié glansgeleentheid aankoop teen R150 elk. Om jou plek te bespreek, stuur ’n e-pos aan tempos@huisgenoot.com.

Hier is vanjaar se benoemdes:

Nuweling van die jaar

A1 André Venter – Die Man vir Jou
A2 Brendan Peyper – Stop, Wag, Bly Nog ’n Bietjie
A3 Francois van Coke – Francois van Coke
A4 Joe Foster – Hartklank
A5 Leah – Wonderwerk
A6 Len Muller – Doodgewone Avontuur

Gospel-album van die jaar

B1 Anneli van Rooyen – Nogtans Sal Ek Sing
B2 Dewald Gouws – Die Tyd Is Nou
B3 Manie Jackson – Dankie Heer
B4 Manne Wat Glo – Manne Wat Glo 2
B5 Retief Burger – Nou en vir Altyd
B6 Rudi Muller – Loflied Volume 1

Kontemporêre-album van die jaar

C1 Andriëtte – Pêrel vir ’n Kroon
C2 Bok van Blerk – Sing Afrikaner Sing
C3 Elvis Blue – Êrens in die Middel van Nêrens
C4 Jannie & Corlea – Alle Paaie Lei na Rome
C5 Karen Zoid – Republiek van Zoid Afrika Vol. 2
C6 Koos van der Merwe – Tamboerynman

Pop-/sokkie-album van die jaar

D1 Ampie – Geheim
D2 Andries Vermeulen – Kô Lag ’n Bietjie
D3 Cordelia – Breek die Stilte
D4 Jay & Lianie – Vir Liefde
D5 Juanita du Plessis – Toe Staan die Wêreld Stil
D6 Ray Dylan – Reg Hier in die Middel

Musiekvideo van die jaar

E1 Andriëtte – Pêrel vir ’n Kroon
E2 Bobby van Jaarsveld – Beter Helfte
E3 Bok van Blerk – Sing Afrikaner Sing
E4 Brendan Peyper – Stop, Wag, Bly Nog ’n Bietjie
E5 Elvis Blue – Die Hemel
E6 Francois van Coke & Karen Zoid – Toe Vind Ek Jou
E7 Karlien van Jaarsveld – Geskeurde Jeans
E8 Kurt Darren – Ek Wens vir Jou
E9 Leah – Met Jou Klere Aan
E10 Nádine – Tyd

Liedjie van die jaar

F1 Andriëtte – “Pêrel vir ’n Kroon”
F2 Bobby van Jaarsveld – “Middernag Serenade”
F3 Bok van Blerk – “Sing Afrikaner Sing”
F4 Brendan Peyper – “Stop, Wag, Bly Nog ’n Bietjie”
F5 Elvis Blue – “Die Hemel”
F6 Francois van Coke & Karen Zoid – “Toe Vind Ek Jou”
F7 Joe Foster – “Mona Lisa”
F8 Juanita du Plessis – “Lief vir Jou”
F9 Leah – “Met Jou Klere Aan”
F10 Ray Dylan – “Ek Sal Jou Moet Laat Gaan”

TV-reeks van die jaar: Aktualiteit, werklikheid, speletjies:
G1 Boer Soek ’n Vrou
G2 Kom Ons Braai
G3 Mooiloop!
G4 Musiek Roulette
G5 Op Pad met Dana
G6 Republiek van Zoid Afrika

TV-aanbieder van die jaar
H1 Amor Vittone – Skoonma-Se-Tong
H2 Emo Adams – Jou Show
H3 Hannes van Wyk – Kwêla
H4 Karen Zoid – Republiek van Zoid Afrika
H5 Nádine – Musiek Roulette
H6 Schalk Bezuidenhout – Die Kliek

TV-reeks van die jaar: drama, sitkom
I1 Bloedbroers
I2 Buurtwag
I3 Die Boekklub
I4 Getroud met Rugby
I5 Sterlopers
I6 Terug na Egipte

Akteur van die jaar: drama, sitkom

J1 Adrian Alper – Die Munisipaliteit van Gwarra Gwarra, Sterlopers, Terug na Egipte
J2 Albert Maritz – Buurtwag
J3 Armand Aucamp – Die Boekklub
J4 Chris van Niekerk – Die Boekklub, Terug na Egipte
J5 Frank Opperman – Terug na Egipte
J6 Hykie Berg – Bloedbroers

Aktrise van die jaar: drama, sitkom

K1 Christia Visser – Die Boekklub
K2 Franci Swanepoel – Bloedbroers, Getroud met Rugby, Sterlopers
K3 Jenna Dunster – Bloedbroers, Sterlopers
K4 June van Merch – Die Boekklub
K5 Marion Holm – Terug na Egipte
K6 Rolanda Marais – Terug na Egipte, Bloedbroers

Sepie van die jaar

L1 7de Laan
L2 Binnelanders
L3 Suidooster
L4 Villa Rosa

Sepie-akteur van die jaar

M1 Danny Ross – Suidooster
M2 Hans Strydom – Binnelanders
M3 Stefan Ludik – Binnelanders
M4 Theodore Jantjies – 7de Laan
M5 Werner Coetser – 7de Laan
M6 Wilhelm van der Walt – 7de Laan

Sepie-aktrise van die jaar

N1 Diaan Lawrenson – 7de Laan
N2 Hildegardt Whites – 7de Laan
N3 Jill Levenberg – Suidooster
N4 Jo da Silva – 7de Laan
N5 Leandie du Randt – Binnelanders
N6 Nadia Valvekens – Binnelanders

Rolprent van die jaar

O1 Dis Ek, Anna
O2 Hollywood in My Huis
O3 ’n Pawpaw vir My Darling
O4 Strikdas
O5 Treurgrond
O6 Vir Altyd

Akteur van die jaar: rolprent

P1 Edwin van der Walt – Hollywood in My Huis
P2 Ivan Botha – Vir Altyd
P3 Jacques Bessenger – Sink
P4 Kaz McFadden – ’n Pawpaw vir My Darling, Strikdas
P5 Morné Visser – Dis Ek, Anna
P6 Neels van Jaarsveld – ’n Man Soos My Pa

Aktrise van die jaar: rolprent

Q1 Anel Alexander – Sink
Q2 Brümilda van Rensburg – ’n Pawpaw vir My Darling
Q3 Charlenè Brouwer – Dis Ek, Anna
Q4 Christia Visser – Hollywood in My Huis
Q5 Donnalee Roberts – Vir Altyd
Q6 Shoki Mokgapa – Sink

Radio-aanbieder van die jaar

R1 Amore Bekker – RSG
R2 Derrich Gardner – RSG
R3 Lynette Francis – RSG
R4 Martin Bester – Jacaranda FM
R5 Rian van Heerden – Jacaranda FM
R6 Willem Pelser – RSG

Leesboek van die jaar

S1 Celesté Fritze – Verlorenkop
S2 Chris Karsten – Die Verdwyning van Billy Katz
S3 Debbie Loots – Split
S4 Irma Joubert – Immer Wes
S5 Irma Venter – Skarlaken
S6 Lien Botha – Wonderboom

The post Huisgenoot Tempo-toekennings: Benoemdes 2016 appeared first on Kyknet.

Christel van den Bergh deel haar verlowingsfoto’s

$
0
0

Die Getroud met Rugby, die sepie-ster Christel van den Bergh en haar kêrel, JP van der Merwe, deel hul verlowingsfoto’s met ons! Ons het met Christel gesels oor die groot oomblik wat JP op sy knieë gesak het (op ’n yskoue dag op die strand!) en hul retro-geïnspireerde fotosessie.

Kyk hier onder na die foto’s.

Fotograaf: James Strack
Grimering en hare: Angelic Tait
Stilering: Clarisa Strack

Hoe het jou verloofde, JP, vir jou die ja-woord gevra?

Ons het in April 2015 terug getrek Johannesburg toe van die Kaap af. Ons het toe ’n vakansietjie in Kaapstad rondom die Silwerskermfees gereël, en dit was die eerste keer wat hy weer in die Kaap was vandat ons in Johannesburg bly.

Hy het gesê ons was nooit regtig by ’n deftige restaurant toe ons nog in die Kaap gebly het nie. Hy stel toe On the Rocks voor in Blouberg, en ek kon nie verstaan hoekom juis daar nie. Een van my beste vriendinne bly basies op die strand in Blouberg, en hy het gesê ons kan dan sommer vir haar gaan kuier voor die tyd en op die strand gaan stap of in die see gaan swem.

Dit was yskoud daardie dag en hy het steeds daarop aangedring dat ons op die strand gaan stap. Ek kon nie verstaan hoekom nie, en het maar gedink: ‘Shame, hy mis regtig die Kaap’.

Ek het toe my vriendin saamgenooi, maar sy het snuf in die neus gekry en gesê nee, dis te koud.

Op die strand het ek baie gekla oor die koue en my ongelukkigheid oor die onnodige stappie in die koue baie duidelik gemaak. Japes was baie positief en het my probeer oortuig dat ons amper weer huis toe gaan en dat ons dit net moet geniet.

Ons het tot by sulke rotse gestap, omgedraai en na Tafelberg gekyk. Hy het toe begin deur sy vinger te wys na die plek waar ons ontmoet het, en toe na waar ons ons eerste en tweede dates gehad het en toe afgesluit deur sy vinger in die rigting van On the Rocks te wys en gesê dís waar ons ons laaste date gaan hê as girlfriend en boyfriend. Hy het toe op sy knieë gegaan en die ja-woord gevra.

Ek was geskok en het vir ongeveer ’n minuut niks gesê nie. Dis nogal ’n skrikwekkende gedagte om in ’n oogwink so ’n groot vraag te antwoord – al weet jy dis wat jy wil hê. Hy moes my 3 keer vra voor ek enigiets gesê het. Maar ek het hom toe baie gelukkig gemaak deur ‘ja’ te sê.

Het jy dit verwag?

Glad nie. JP is ’n baie berekende mens en het ongeveer twee maande voor hy my gevra het om te trou slegte nuus by die werk ontvang. Dit het hulle maatskappy baie teruggesit en hy was toe nie in die ideale posisie nie. En dít het my laat dink hy sal my nie vra nie, oor ek weet hoe sy kop werk. Daarom het ek dit glad nie verwag nie.  Minwetende dat hy reeds die ring ’n paar weke voor hy die slegte nuus ontvang het aangekoop het.

Hoe het jy en JP mekaar ontmoet en hoe lank is julle al ’n paartjie?

Ek het gewerk aan Deeltitel Dames in die Kaap in 2009 en met ons wrap party is ek en ’n vriendin uit na die tyd – na ’n dansplek genaamd Jade in Groenpunt. Hy het belanggestel in my, maar ek het ’n kêrel gehad op daardie stadium. Hy het gesê hy wil nie net my vriend wees nie. Ons het toe twee jaar later saamgekom, en is nou vyf jaar saam.

Hoe vul julle mekaar aan?

Ons is baie verskillend, maar ook op baie maniere dieselfde. JP is ongelooflik verantwoordelik en berekend.  Ek is meer last minute en spur of the moment.

Hy het my oor die jare meer verantwoordelik gemaak en oor die jare het hy geleer om bietjie meer te ontspan wanneer dit kom by reëlings, ens. Hy is ongelooflik selfversekerd en verstaan en ondersteun my 100%. Ons lag saam en hou mekaar positief.

Vertel ons meer van jul retro-geïnspireerde fotosessie. Hoekom het julle juis op dié tema besluit?

Ons het een aand by ons huis gebraai saam met een van my beste vriendinne, Clarisa, en haar man, James. Hy is ’n fotograaf en sy trougeskenk aan ons is dat hy die foto’s sal neem.

Hy hamer nou al lank dat ons verlowingsfoto’s moet neem, maar dis vir my ietwat corny. Ons huis is baie retro en toe daardie aand stel hulle voor dat ons sommer die verlowingsfoto’s in ons huis moet laat neem, en toe kom ek met die ’50’s-idee op.

Dit is vir my so ’n mooi era en ek het gedink dit sal nogal stylvol lyk en pret wees. En dit was. Die foto’s het so mooi uitgekom. JP moes maar net instem, foeitog, ha ha – maar hy was baie professioneel.

Christel van den Bergh Christel van den Bergh Christel van den Bergh Christel van den Bergh Christel van den Bergh Christel van den Bergh Christel van den Bergh

Wat is jul idee van ’n droomtroue?

Om die dag net te geniet saam met almal wat ons liefhet. Ek het nog nooit gedroom van my troue nie, so presies waar dit gaan wees, ens., is maar ’n bysaak. Ons wil kuier, lag, en dans tot die son opkom.

Wat is die vreemdste verhoudingsraad wat jy al ontvang het?

Hierdie is nie juis vreemd nie, maar dis glad nie gepas nie. Iemand het al vir my gesê hoe ek moet onderdanig wees aan my man. Ek glo glad nie daarin nie. Ek glo man en vrou is gelyk en respek moet van beide afkom.

En die waardevolste raad vir verhoudings?

Om jou lewe saam te hê en te geniet, maar om steeds jou individualiteit te behou.

Kyk Getroud met Rugby, die sepie weeksaande om 18:30 – net op kykNET.

The post Christel van den Bergh deel haar verlowingsfoto’s appeared first on Kyknet.

Koekedoor: Op die muffin-wa

$
0
0

Vir dekades was muffins warm uit die oond deel van die huis se oggendgeure. Hoe het dit dan gekom dat dié gou-meng-, gou-bak-, min-bestanddele-, min-koste-tuisgebak ontaard het in die oorgroot, oorsoet muffin?

Die skuif van ’n heilsame lid van die vinnige meelmengsel-familie na mega-muffins het begin met die gesondheidsontploffing van die 1970’s. Semels, jogurt en droëvrugte was bo-aan die gesondheidslysie, ideaal vir muffins. Dit was egter ook dieselfde tyd wat ál meer vroue hul voorskote opgevou het, en al hoe minder mense het nog self gebak.

Bakkerye het hier ’n goue geleentheid gesien en op die muffin-wa geklim. Die probleem was egter dat muffins iets is wat vars uit die oond geniet moet word, met ’n baie beperkte raklewe. Om dit langer vars te hou het bakkerye ekstra suiker en vette by die muffins gesit. Wat op die oog af baie gesond gelyk en geklink het, was skielik volgeprop met dieselfde kalorieë as ’n versierde kolwyntjie.

’n Ander revolusie het ook tot die muffin se veranderde status bygedra – gourmet-koffie. Koffiewinkels het die sogenaamde gesondheidsmuffin as die ideale eetding aangebied saam met hul espresso’s en caffe latte’s. Die muffin het net nóg soeter en nóg groter geraak.

muffins

Die tyd is reg vir die eertydse muffin vol goedheid om weer terug te keer na die tuiskombuis.

Muffin-kortles

Geen winkelmuffin kan kers vashou by tuisgemaak nie. Dis blitsig, goedkoop en vol moontlikhede. Hier’s hoe:

1. Die geheim is om dit vinnig en net genoeg te roer, sodat dit nog klonterig is – selfs nog met ’n sweempie meel hier en daar.

2. Gebruik papiervormpies om jou tyd te spaar met pannesmeer en opwas agterna. Die muffins se kante sal egter sagter wees.

3. Gebruik twee lepels of ’n roomyslepel om die pannetjies 2/3 vol te maak.

4. Muffins bak gouer gaar in donker, kleefvrye muffinpanne. Toets dus gouer of dit gaar is, of bak teen 10°C laer.

5. Maak sommer ’n paar baksels, want muffins vries besonder goed.

6. Maak dit spesiaal met ’n muesli-strooisel: meng 25 g muesli, 25 g amandelvlokkies, 25 g gekapte pekan- of okkerneute en 30 ml heuning en strooi oor ongebakte muffins.

Kry die resep vir Sanet se pesto-muffins hier.

Probeer gerus Wessels se muffins met kaas en uie hier.

Kanya gebruik biltong en kaas. Klik hier vir haar resep.

Kyk Koekedoor, Donderdae om 20:30, net op kykNET.

The post Koekedoor: Op die muffin-wa appeared first on Kyknet.

Storievertellers kuier eersdaags Oppiestoep

$
0
0

Vanaf 1 Julie 2016 kan jy elke Vrydag om 18:00 inskakel vir Oppiestoep, ’n skreeusnaakse geselsprogram, met aanbieders Andries Vermeulen en Pietman Geldenhuys. Dié reeks is propvol lekkerlag-stories en Andries en Pietman kuier week na week saam met interessante gaste van regoor Suid-Afrika.

Oppiestoep Oppiestoep Oppiestoep

Daar is ook lekker musiek deur Schalk Joubert en sy musikant vriende.

Kyk Oppiestoep vanaf 1 Julie, elke Vrydag om 18:00.

The post Storievertellers kuier eersdaags Oppiestoep appeared first on Kyknet.

Silwerskermfees 2016: Top-15-kortfilms

$
0
0

Die kykNET Silwerskermfees, vanjaar in sy sesde jaar, gaan van 24 tot 27 Augustus 2016 in Kampsbaai aangebied word en beoog om die Suid-Afrikaanse filmbedryf, wat fiksie en dokumentêre rolprente sowel as kortfilms insluit, die platform te gee wat dit toekom.

Hier is meer oor die 15 kortfilms wat gekies is vir ontwikkeling en vervaardiging. Hierdie kortfilms gaan almal by vanjaar se fees vertoon word:

Koue Voete

Loklyn: Moenie ’n misdadiger aan sy skoene takseer nie.

Regisseur en skrywer: Lara Lourens het aan die Performing Arts Lifestyle Institute in Pretoria studeer, waar sy praktiese ervaring opgedoen het in skryf, regie en toneelspel. Hoewel sy reeds haar teaterdebuut as regisseur gemaak het, is Koue Voete haar eerste professionele kortfilm as skrywer, regisseur en vervaardiger.

Die Bok

Loklyn: ’n Verbitterde swanger vrou veg om haar roostuin te beskerm teen ’n bok terwyl haar huwelik verbrokkel.

Regisseur en skrywer: Philip van Zyl is ’n filmmaker van Pretoria wat ’n voorliefde het vir eg Suid-Afrikaanse stories met sterk menslike temas. Paul Thomas Anderson, Denis Villeneuve en Martin Scorsese tel onder sy gunsteling-filmmakers. Philip van Zyl het die regie sowel as die teks van Die Bok behartig.

Onthou

Loklyn: Wanneer ’n jong, sorgelose hippie aansoek doen as verpleër by ’n streng, vol nonsens bejaarde dame, is daar reeds spanning vanaf die eerste woordewisseling. Tog ontwikkel hulle ’n dieper vriendskapsverhouding en leer mekaar hoe om die ander onvoorwaardelik te aanvaar. Ouderdom is net ’n getal, maar hartsvriende bly deel van jou bestaan.

Regisseur: Susan Coetzer is ’n bekroonde aktrise en word veral onthou vir haar teaterdebuut in Diepe Grond, asook TV-reekse soos Daisy de Melker en Meester. Sy is ook ’n erkende skilder, joernalis en ’n skrywer. Verder tree sy landwyd op – of as inspirerende/motiverende spreker of met haar nuwe eenvrou-komedie Koek en Tert, wat deur haar geskryf is.

Skrywer: Elanie Rupping maak haar deurbraak as skrywer tydens die tweede seisoen van die kykNET-jeugdrama Sterlopers. Sy is tans skrywer en teksredigeerder op die sepie Getroud met Rugby.

Vlees van my Vlees

Loklyn: Vyftien jaar na ’n gruwelooslike motorongeluk vier ’n joviale man en sy kwadruplegiese vrou hul twintigste huweliksherdenking. Ten spyte van die romanse en selflose liefde noop die frustrasies van haar gebrek hulle om die waarheid van hul gebroke verhouding, verwyt, pyn en eie magteloosheid te trotseer.

Regisseur en skrywer: Na filmskool het Matthys Boshoff vir vier jaar in die kunstedepartement op verskeie internasionale films gewerk waarna hy ’n filmmakersresidensie in Amerika voltooi het. Hy het ervaring as skrywer vir televisie-drama en as regisseur op plaaslike sowel as internasionale advertensies. Hy ontwikkel tans ’n paar films.

Arts

Loklyn: André red beseerde diere, maar sy verhouding met die plaaslike veearts neem ’n donker draai wanneer sy ma begin inmeng…

Regisseur en skrywer: PG de Jonge het halfpad deur ’n joernalistiekgraad besef hy hou meer van fiksie. Nou maak hy flieks en laat die nuus oor aan ander.

Merk. Sny. Stoor.

Loklyn: Wanneer ’n psigologiese versteurde man se traumatiese verlede sy hede beïnvloed word ’n vreemdeling die slagoffer van sy eie trauma.

Regisseur en skrywer: Ricardo Liut is ’n multimedia- en grafiese ontwerp-dosent by die Noordwes-Universiteit. Hy het ’n BA in grafiese ontwerp en spesialiseer in fotografie, film en multimedia-ontwerp. Hy is tans besig met sy nagraadse studies. Sy MA in grafiese ontwerp fokus op film, narratologie en kinematografie. In 2015 is hy die regisseur vir die kortfilm Die Monoloog saam met Zoo Productions.

En die wiele van die bus gaan om en om

Loklyn: Slapgat-busbestuurder Freddie Venter vervoer 10 pasiënte van een geestesgestremde inrigting na ’n ander… EN VERLOOR SY VRAG.

Regisseur: Regisseur en SAFTA-wenner Pieter Grobbelaar smokkel al vir jare met ons harte en koppe met sy verhoogstukke, operas, televisiereekse en flieks. Pieter se skeppings lig mens se siel, met sy oorspronklike stem, unieke oog en gut vir komedie en ’n kreatiewe klap om die onmoontlike moontlik te maak.

Skrywer: Film-fanatikus Marina Bekker het haar plekkie in die son gekry toe sy begin skryf het. Met ’n hele paar toekennings onder haar belt gee sy deesdae vrye teuls aan haar obsessie om nuwe paaie oop te skryf om films te maak in elke moontlike gedaante.

Kolskoot

Loklyn: Fanus Niemand is toe iemand…

Regisseur en skrywer: Wimpie van der Merwe (33) verwerf sy B-Tech-graad in 2006 aan die Filmskool van TUT. Bekend vir sy rol as skrywer en regisseur van Karate Kallie werk hy sedertdien as skrywer, regisseur en kameraman in die filmbedryf.

Spoor(loos)

Loklyn: As ons maar net kon verdwyn.

Regisseur: Marisa Drummond is ’n bekende televisie-, film- en teater-aktrise. Sy het haar debuut as regisseur in die nuwe kykNET-sepie Getroud met Rugby gemaak.

Skrywer: PANSA-bekroonde skrywer Jannes Erasmus maak vanjaar sy kortfilmdebuut. Jannes is grootliks bekend vir sy grensverskuiwende teaterproduksies.

Oom

Loklyn: Na Oom Johan Booysens ’n jong man langs die pad optel, besef hy hoe gevaarlik die pad kan wees as mens nie jou geselskap ken nie.

Regisseur en skrywer: PJ Kotze is ’n filmmaker gebaseer in Johannesburg met ’n passie vir platteland-stories, regte klein-dorpie-karakters en avontuur. Hy is op sy absoluut gelukkigste as hy onder die water of bo-op ’n berg kan staan met ’n kamera in sy hand en vrees na vreugde kan verander. Na 5 jaar van klasgee in film, is hy tans voltyds toegewy om sy ondervindings as ’n Suid Afrikaner te probeer interpreteer en uit te leef deur film as medium. Film is die naaste wat hy al kon kom aan waarheid in die wêreld.

Hum

Loklyn: Thomas hoor die verlammende “hum” vir so lank al dat hy skaars kan onthou wanneer dinge vir hom begin skeef loop het. Met die hulp van sy psiagater, Dokter Swart, begin hy om sy verlede te ontleed sodat hy vir Jana – die liefde van sy lewe – terug kan wen, ten spyte van die onafwendbare gedreun… Én die gevoel dat hy konstant dopgehou word…

Regisseur en skrywer: Willem Grobler is ’n Kaapse skrywer en regisseur met ’n agtergrond in verskeie velde binne die filmindustrie. Hy is ’n groot liefhebber van genre films, en met die ondersteuning van die NFVF ontwikkel hy tans sy speelfilm GOD IS GOOD – ’n Neo-Noir wat ondersoek hoe mense reageer as hulle gekonfronteer word met Suid Afrika se ekstreme vorms van onreg en geweld. Sy bekroonde kortilm THE GREAT GATSBY: REDEMPTION is binnekort te sien by die 2016 Durban International Film Festival.

Die Muse

Loklyn: ’n Naïewe jong verpleegster word as oppasser aangestel om na ’n briljante, maar moeilike skrywer met Aspergersindroom om te sien. Maar, as ’n skrywer sukkel om leuens te vertel, hoe is hy veronderstel om stories op te maak?

Regisseur en skrywer: In 2014 ontvang Frannie van der Walt ’n BA Visual Communication-graad (met hoofvakke in Film & TV en Screenwriting), cum laude, vanaf The Open Window Institute in Pretoria, gevolg deur ’n BA Hon. Motion Picture Medium vanaf AFDA (met hoofvakke in Screenwriting en Directing) in Kaapstad in 2015. Hy werk tans as draaiboekskrywer en regisseur aan die kortfilm Die Muse vir KykNET se Silwerskermfees.

Plankekoors

Loklyn: Daar’s ’n fyn lyn tussen opwinding en vrees. Dis net woorde. Jy’t ’n keuse. Veg of Vlug?

Regisseur: Nini Conradie het haar honneursgraad in Drama en Teaterstudie aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Sy spits sederdien haar fokus op verskillende areas van produksie. Plankekoors is haar debuut as regisseur.

Skrywer: Ludwig Binge het in 2014 sy meestersgraad in Drama en Teaterstudie aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Hy is ’n vryskut-akteur en het deelgeneem aan verhoogproduksies soos Balbesit, Cabaret en Samsa-masjien, sowel as die speelfilm Johnny is nie dood nie.

Die Biker

Loklyn: ’n Motorfietsryer kies die oop pad as ontvlugting. Het hy die regte afdraaipad gekies?

Mede-regisseurs: Geoffrey Butler en Lisba Vosloo. Geoffrey is ’n vryskut-regisseur en -redigeerder van verskeie televisieprogramme en advertensies. Hy het onlangs die mede-regie van ’n dokumentêre film oor Pieter-Dirk Uys behartig.

Mede-skrywers: Lisba Vosloo en Henry Cloete. Lisba Vosloo is ’n bekroonde dokumentêre filmmaker, regisseur en redigeerder wat al op verskeie programme gewerk het wat strek van opera, met Eoan, Ode aan die Opera-era, tot oorlog, met Olive Schreiner, as formidabele vrou. Sy en vennoot Stef Albertyn het ’n naproduksiefasiliteit teen die hange van Tafelberg in Kaapstad.

Henry Cloete is ’n skrywer van Kaapstad. Hy is betrokke by verskeie film- en televisieprojekte. Sy debuutroman, Draalnoot vir ’n janfiskaal, het in 2014 verskyn.

Beloofde Land

Loklyn: Lodewyk Mouton is die naïewe heerser van die diktatorskap, Anskroepolis. Wanneer ’n groep sosialistiese rebelle by sy herehuis opdaag en dreig om hom te onttroon, word Lood gekonfronteer met die realiteit van sy borrel-bestaan en die ellende van sy volk.

Regisseur en skrywer: Mia Cilliers is ’n skrywer en regisseur van Kaapstad met ’n agtergrond in dokumentêre films, webreekse en werklikheidstelevisie. Sy het ’n Meestersgraad in Dokumentêre Kunste aan die Universiteit Kaapstad.

***

kykNET het ook hierdie jaar ’n sestiende projek geïdentifiseer as een wat nog nie gereed is vir uitvoering nie, maar baie potensiaal toon. Die projek se skrywer gaan onder leiding van een van kykNET se bekwame opdraggewende vervaardigers die draaiboek verder ontwikkel vir insluiting in volgende jaar se kortfilmprojek. Die titel van die film en die naam van die skrywer sal by vanjaar se fees bekend gemaak word.

Bly hier op die hoogte van alle Silwerskermfees-nuus.

The post Silwerskermfees 2016: Top-15-kortfilms appeared first on Kyknet.

Magtag!: Om te lag is Pragtag!

$
0
0

Whacked, in samewerking met kykNET en Jacaranda FM, bied aan: Magtag! – die komedie van die jaar wat beloof om jou uit die veld te slaan, met onder meer skerpskertsery, skets, video en musiek.

Neem een van die beste produksiehuise in die land, ’n groep van die talentvolste komediante in die kontrei, van die beste videoskets-kunstenaars op die internet, die televisiekanaal wat Afrikaanse vermaak gedefinieer het, ’n geheime musiek-gaskunstenaar en wat kry jy? Magtag! – ’n onvergeetlike aand opgedra aan die wonderlike geluid van Afrikaanse gelag.

Op 24 en 25 Junie kan jy die geleentheid hê om van Suid-Afrika se top-komediante op een verhoog by Carnival City te sien: met onder andere Shimmy Isaacs, Melt Sieberhagen, Monique Nortje, Schalk Bezuidenhout en Rian Van Heerden, sowel as spesiale video-verskynings deur Suzelle DIY en Karen Zoid.

Magtag 2

Top-vervaardiger van komedie Whacked meen dat Afrikaanse humor wêreldklas is en dat dit op ’n unieke wyse gevier moet word.

“Komedie ervaar oor die afgelope paar jaar reuse groei, met groter en meer skouspelagtige vertonings wat aangebied word – maar die meeste hiervan keur Engels voor,” sê Marita van Schalkwyk, kreatiewe regisseur, oor dié voortreflike Whacked-produksie.

“Ons het gedink dat ons iets op die planke moet bring wat regtig Afrikaans vier, want dis ’n unieke taal – en van die beste skryfwerk in Afrikaanse komedie kan net nie in enige ander taal vertaal word sonder om die regte bekoring daarvan te verloor nie.”

Verder sê sy: “Ons kan nie wag vir hierdie twee aande nie, waar duisende Afrikaanssprekende mense bymekaar kan kom en ’n skitterende vertoning kan geniet wat die volslae hilariteit van plaaslike komedie vier en erken.”

Weens die beperking in kaartjies sal dit ook uitgesaai word op kykNET, wat trots is om saam met Whacket deel te wees van dié produksie. Geskiedenis word gemaak, aangesien dit die eerste keer sal wees wat Afrikaanse skerpskertsery op dié kanaal vertoon sal word.

Omdat Jacaranda FM reeds jare lank met die Afrikaanse mark praat, ondersteun hulle dié inisiatief 100% en weet dat dit hoogtyd is dat iemand ’n enorme aand vol opwinding vir Afrikaanse komedie op die planke bring.

Dit beloof om soveel meer as net ’n vertoning te wees. Dié aand sal afskop in die voorportaal waar ’n groot aantal verrassings om elke hoek en draai verwag kan word, terwyl fantastiese produkte ook vertoon sal word. Daarna beweeg ons arena toe.

’n Paar gelukkige gaste staan ook ’n kans om elk eksklusief toegang te kry na agter die verhoog.

Kaartjies vir Magtag!, die Afrikaanse komedievertoning van die jaar, is nou beskikbaar by Computicket. Klik hier.

The post Magtag!: Om te lag is Pragtag! appeared first on Kyknet.

Wat jy dalk nie van Hannes van Wyk geweet het nie

$
0
0

Die Kwêla-aanbieder Hannes van Wyk kuier weekliks in kykers se sitkamers en is vir jare al ’n bekende gesig op televisie en die verhoog. Daarom voel Hannes vir baie mense sommer al soos ’n goeie vriend, maar hier is ’n paar feite wat jy dalk nie van hom geweet het nie:

Wat is jou gunsteling-sjokolade?

Ek is mal oor sjokolade en dis moeilik om ’n gunsteling te kies! Maar, jy vang my in ’n wip veral as die sjokolade neute in het.

Watter motor ry jy?

Min mense sal weet ek hou van motors, veral iets wat meer byderwets is en die potensiaal het om ’n klassieke ryding te word. Ek hou veral daarvan om met my gerestoureerde 1974-Volkswagen Kewer te ry – so ’n mooi witte.

Wat is jou gunsteling-sport?

Ek hou baie van tennis en het as jong man professioneel tennis gespeel, en provinsiale kleure gehad. Ek moes basies kies tussen tennis of drama as ’n loopbaan.

Is jy lief vir dans?

In my jonger dae sou jy my maklik op ’n nagklub se dansvloer tot die vroeë oggendure aantref. My danspassies sou ’n paar mense beïndruk het – of dalk nie!

Wat irriteer jou die meeste van mense?

Die feit dat mense durf laat kom. Dit wys dat hulle nie respek het vir ander mense se tyd nie.

Wat lê jou na aan die hart?

Diere en ou mense is vir my baie spesiaal. En ek sal enige iets doen om hul lewens beter te maak of te verryk. Ek het self drie honde en as omstandighede dit sou toelaat, sou ek maklik nog ’n handvol aangeneem het.

Kyk Kwêla, Woensdae om 20:00 op kykNET.

The post Wat jy dalk nie van Hannes van Wyk geweet het nie appeared first on Kyknet.


Koekedoor: Groot oomblik-gebak

$
0
0

Net vier Koekedore talm nog in Tulbagh, en in die stoor is dit net Tannie Elizabeth en Mari-Louis wat op die deelnemers wag.

“Ek het half underdressed gevoel,” sê Corli.

Tiaan kom ingestap met ’n skinkbord – gereed om die dames op sy hande te dra. Die biertent-episode het op mannegebak gefokus, sê hy, maar gebak vir vroue is dié week die spil waarom alles draai.

Vandeesweek se tema is “groot dae in ’n vrou se lewe”. Vandag is dan ook ’n belangrike dag in die Koekedore se lewens, want niemand word huis toe gestuur nie. Boonop stap die episode-wenner weg met ’n Mervyn Gers-prys ter waarde van R25 000.

Die tuisgebak-uitdaging bring ode aan die kombuistee. Die tradisie is gewoonlik dat elke gas ’n resep vir die bruid saambring (want “dan is ’n mens mos nog nie ge-konfyt in die kombuis nie,” sê Elizabeth). Só is die Koekedore gevra om elk ’n staatmaker-resep vir die kombuistee te bring, en gaan hulle vandag mekaar se resepte toets om uit te vind hoe flatervry dié resepte werklik is.

Wessels trek Kanya se resep, ’n amper-Florentyne. Kanya gaan Corli se suurlemoentert-resep toets, terwyl Corli Sanet se sjokolade-bruintjies gaan bak. Laaste aan die beurt is Sanet, wat Wessels se melktert trek.

Kanya sê: “Ons is almal koek-vriende. Ek hoop Wessels verstaan wat ek bedoel.”

Wessels “voel vandag soos ’n eend uit die water.” Boonop moet dié Koekedoor homself tuismaak in Kanya se kombuis en Kanya meen dit “ontsenu” hom effens.

Corli spot: “Die lewe is nie altyd hoe ’n mens wil hê dit moet wees nie.”

Wessels sê vir Kanya: “Ek is nie so seker of jou koekies gaan werk nie, vrou. Dit lyk vir my maar dodgy.”

Kanya het weer ’n paar vrae vir Corli, wat vergeet het om die temperatuur van die oond aan te dui.

“Wat ’n prettige episode!” sê Tannie Elizabeth. Mari-Louis lag: “Ek drink gereeld tee in ’n aandrok 11:00 in die oggend.”

Sanet peper weer vir Wessels met vrae, omdat vanielje een van die bestanddele is, maar dit nêrens onder metode geskryf staan nie.

Wessels meen hy is omring deur drie uiteenlopende, merkwaardige vroue: Corli is ’n regte dame (“prim en proper”), Kanya is mededingend en innoverend en Sanet, as ma van twee seuntjies, is ’n “dapper vrou”.

Kyk hier onder na foto’s vanuit die episode:

Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor

Haar troudag is seker dié belangrikste dag in ’n vrou se lewe, maar vir die fyngebak-uitdaging word daar nie troukoek gebak nie.

Die Koekedore bak vandag ’n romantiese wittebroodkoek, wat deesdae as ’n “kamerkoek” vir twee ’n gewilde instelling by troues raak. Geskoei op ’n Persiese liefdeskoek, laat Mari-Louis se skepping die koors hoog loop met engelhare (Turkse suikerwerk), ’n tipe spookasem wat met die hand uit gekookte suiker getrek word.

Dis ’n lemoenkoek (“ietsie oud,” sê Mari-Louis), waarvan die buitekant nie versier word nie (’n “naakte koek”), en dis met melkversiersel gevul. “In die ou dae was versiersuiker skaars,” sê Tannie Elizabeth, “so iets moes gebruik geword het.”

Die koek word ook versier met onder meer Turkse “toot”-lekkers, wat die bakkers tot agter die ore soet laat.

“Hulle noem dit liefdeskoek, maar daar is hare op,” sê Wessels. “Darem suikerwerk,” sê hy, maar “koek” en “hare” word steeds in dieselfde sin gebruik.

Sanet begin met die lemoenkoek – ’n vreemde beslag, omdat al die bestanddele saam in ’n bak gaan en vir 6-8 minute gemeng word. As iemand in dié Koekedoor se familie trou, spring almal aan die werk, sê sy. Haar eie troukoek is deur haar ma gebak en deur haar niggies en nefies versier.

Haar man gaan nou baie kwaad wees vir haar, sê Corli, “maar ek het nog steeds nie ’n wittebrood gehad nie!”

Sy melkversiersel lyk soos houtlym, spot Wessels. Hy is die “breker van die biertent” en “die koning van kitsch,” sê hy. “Ek weet nie of ek nou die baas van chaos en hare is nie.”

Die koek is veels te klein vir alles wat daarop moet pas, meen Kanya. Maar dan is dit tyd vir die deelnemers om hul wittebroodkoek daar te laat.

Corli lag én huil. “My koek is klaar!”

Ná die kombuistee en wittebrood, kom nóg ’n groter gedoente: die ooievaar.

Die pronkgebak-uitdaging bring die vraag ‘is dit ’n dogtertjie of ’n seuntjie?’ na die ooievaarstee toe. Die nuwe neiging is om die antwoord te openbaar met ’n koek wat die baba se geslag onthul wanneer dit gesny word.

Wessels vertel hy was “teleurgesteld” toe hy vir ’n seuntjie gevra het of hy vir hom ’n Spider-Man-koek kan bak, en die seuntjie toe sê hy hou meer van Iron Man. “Ek dink ek wil dit eintlik net vir myself bak,” lag hy. “Miskien is ek Spider-Man…

Corli sê: “Dink Wessels hy’s Spider-Man?

“Nee, Wessels is alles behálwe Spider-Man!”

Wessels sê: “Ek dink ek kan. Ek dink ek is oulik genoeg!”

Hy maak ’n sponskoek, gemmerbrood, toffieappels en rond dit af met ’n filo-lint, waarin die geslag versteek is: ’n dogtertjie.

Kanya bak ’n sjampanjekoek met ’n Switserse botterroomversiersel en koekstokkielekkers. ’n Blou hartjie klop in ’n witsjokolade-balletjie in die middel van die koek.

Sanet kies ’n sjokoladekoek en maak botter met onder meer Oreo-koekies. In die middel van die koek verklap ’n koekie die geheim: dis ’n seuntjie!

Corli maak ’n suurlemoen-jogurt-koek en ’n rolkoek vir binne-in. Die rolkoek binne-in is blou gekleur.

Dan is dit tyd vir die groot onthulling. Tannie Elizabeth bedank die Koekedore: “Dit was lekker om weer te voel ek is jonk.”

Niemand gaan huis toe nie, maar die episode-wenner, en wenner van die Mervyn Gers-prys, is Kanya. Sy was vandag “weer op die grond,” sê sy, “maar dit was lekker. Ek wil hier wees vir so lank as moontlik.”

Die beoordelaars gesels oor dié week se drie uitdagings.

Kyk Koekedoor, Donderdae om 20:30.

The post Koekedoor: Groot oomblik-gebak appeared first on Kyknet.

JAM!: Meer oor Mandi en Mari

$
0
0

Mandi (links) en Mari (regs)

Mandi du Plooy Baard en Mari Molefe van Heerden is vanaf 19 Junie 2016 as veldaanbieders op JAM! te sien. Ons het met hulle gesels.

Vertel ons meer van jou agtergrond as aktrise.

Mandi: My liefde vir toneelspeel het op ’n jong ouderdom begin en my eerste rol op die kassie was as Muggie in Saartjie.

Mari: Om ’n aktrise te wees was nog altyd my droom. Van kleins af was ek mal daaroor om my familie en vriende te vermaak, en soos min mense is my droom besig om elke dag meer en meer waar te word, omdat ek voel dat ’n mens nooit moet ophou droom nie.

Wat was jou gunsteling-rol om op die kassie te vertolk?

Mandi: Daar was ’n paar interessante rolle wat ek vertolk het, maar die karakter Lara (op Egoli) was sekerlik my gunsteling, aangesien ek oor ’n tydperk van 6 jaar saam met die karakter gegroei het en verskeie elemente kon ervaar en uitleef.

Mari: My loopbaan is nog in sy beginfase, maar ek sal nooit my eerste rol, as Lerato op Villa Rosa, vergeet nie. Dis waar my oë oopgegaan het en die liefde vir film en TV het geblom.

Wat weet min mense van jou?

Mandi: Dat ek geeeeeen seekos of vis eet nie.

Mari: Ek is ongelukkig daardie weird mens wat aan Ornithophobia lei, ’n fobie vir voëls. Hulle moenie naby my vlieg of selfs ’n geluid maak nie, Dan wil ek weghol.

Waarna sien jy die meeste uit om as veldaanbieder vir JAM! te werk?

Mandi: Om nuwe mense te ontmoet en om weer as aanbieder te werk, en dít saam met ’n A-span!

Mari: Om ’n aanbieder te wees was nog altyd een van my groot drome – nie net oor die feit dat ek mal is daaroor om saam met mense te werk nie, maar ook om nuwe mense te ontmoet, uit te vind hoe verskillende mense dink en praat, en natuuurlik sien ek uit na hoe ek as mens gaan groei in die nuwe werksgeleentheid.

Hoe sal jy die huidige Afrikaanse musieklandskap beskryf?

Mandi: Bedrywig, populêr en konstant besig om te groei.

Mari: Die Afrikaanse musiekbedryf is uiters mededingend en bars uit sy nate – as jy kyk hoeveel kunstenaars groot hoogtes bereik. Daar is ook al hoe meer nie-Afrikaanssprekende sangers wat die Afrikaanse mark betree en dit maak my trots.

Wie is jou gunsteling-kunstenaar of -musiekgroep?

Mandi: Ek gaan moet sê Navi Redd.

Mari: In Suid-Afrika: Marcato (omdat hulle jare lange vriende van my is, en soveel talent het). Internasionaal: Pink (oor haar “what you see is what you get”-houding. Sy sing oor dinge waarmee ek saamstem).

Na watter CD luister jy op die oomblik in jou kar?

Mandi: Heilig is U Naam.

Mari: Een van Pink se ou albums, I’m not dead.

Wat is die snaakste/vreemdste raad wat iemand al ooit vir jou gegee het?

Mandi: Toe ons seuntjie Jeandré as baba nie geslaap het nie, het iemand eenkeer gesê ons moet brandewyn in sy bad gooi en op sy tempels smeer. Ons het dit toe uitgetoets!

Mari: Don’t sweat the petty things and don’t pet the sweaty things.

Wat irriteer jou die meeste?

Mandi: Selfsugtige mense wat só vasgevang is in hul eie lewe dat hulle nie vir die mense om hulle kan omgee nie. Of nie kan gee nie!

Mari: Mense wat geen respek vir ander het nie.

Wie of wat is vir jou belangrik?

Mandi: My gesin (Schalk, Jeandré en Sumé), my familie en my vriende!

Mari: Verhoudinge tussen vriende en familie.

Wat is die waardevolste les wat jy al geleer het?

Mandi: Maak eerder foute en leer daaruit as wat jy nooit probeer nie en spyt is! Ek wil nooit spyt wees oor iets wat ek nie probeer het nie!

Mari: Geluk is nie gebaseer op eksterne status nie; dit is ’n interne staat.

Kyk JAM!, Sondae om 19:30 op kykNET NOU!.

The post JAM!: Meer oor Mandi en Mari appeared first on Kyknet.

Vadersdag: Dankie, Pa!

$
0
0

Riaan Cruywagen en sy dogter, Anita Bornman. 

Dis Vadersdag en ons het met onder andere die ikoon Riaan Cruywagen, Suidooster se Irshaad Ally en Binnelanders se Cindy Swanepoel gesels oor hul pa’s (en pa-wees!) gesels.

kykNET Verslag se Riaan Cruywagen

Wat is/was die beste raad van jou pa? 
As jy nie kontant vir iets kan betaal nie, kan jy dit nie bekostig nie.

Wat is/was jou pa se beste braaiwenk?  
Moet nooit steak gaarder as halfgaar braai nie.

Wat is jou boodskap aan jou pa vir Vadersdag? 
As my pa nog geleef het (hy is in 2009 oorlede) sou ek vir hom gesê het hy is die beste pa ter wêreld, want hy sou nooit skroom om homself te kort te doen vir sy gesin nie.

Vertel bietjie meer oor jou pa. 
Hy het ’n verstommende algemene kennis gehad, wat ek nog by min mense teëgekom het. Hy kon lang stukke uit Shakespeare én Langenhoven aanhaal, en die ingewikkeldste toegepaste wiskundeprobleme in ’n japtrap kafdraf. Sy Afrikaans was die suiwerste denkbaar en sy Engels direk uit Oxford. ’n Merkwaardige man met ’n onlesbare dors na kennis.

Wat het jy nie geweet van Vadersdag nie? 
Dat een dag per jaar opsy gesit moes word om pa’s spesiaal te laat voel, want my dogter doen dit elke dag!

Wat is vir jou die lekkerste van pa-wees? 

Om te sien hoe my kind die opvoeding wat sy ontvang het benut vir ’n vol, gelukkige en suksesvolle lewe. En, natuurlik, dat dit die eerste stap was na oupa-wees.

Wat is vir jou minder lekker van pa-wees? 
Wanneer my kind siek is en ek magteloos is om te kan help.

Wat is jou wens vir haar? 
Dit is my hartewens dat sy en haar gesin altyd die drie groot V’s sal ervaar – veiligheid, vrede en voorspoed – en dat hulle ’n Suid-Afrika sal erf waar almal mekaar ’n plekkie in die son gun, sonder haat, afguns, korrupsie en geweld.

Winslyn se Divan Botha

Vadersdag

Divan en sy pa

Wat is/was die beste raad van jou pa?
My pa is ’n dromer en hy’t my geleer om in jou drome te glo. Die beste raad van my pa is: “Go for it!”. Elke pa moet sy kinders aanmoedig om risiko’s te vat en saam met hulle droom. Dankie, Dad!

Wat is/was jou pa se beste braaiwenk?  
Hy is ’n aaklige braaier – en hy weet dit self – so, nee, ons ruil nie braaiwenke uit nie, maar wel besigheidsidees.

Wat is jou boodskap aan jou pa vir Vadersdag?
Pa, jy is my hero; jy is my grootste supporter. Mag die dag vir jou ongelooflik wees, en mag Ma ook vir jou lekkerder kos maak (my ma kan ook nie kook nie – en sy weet dit – ha!).

Vertel bietjie meer oor jou pa.
My pa is gebore in Pretoria, hy was koshuis toe toe hy 6 was, en het grootgeword in Koster in die Noordwes. Hy is ’n gebore entrepreneur, en nog altyd ’n besigheidsman – hy’t my geleer oor besigheid en die ekonomie. Elke oggend het hy die Beeld langs my bed neergesit en gesê ek moet die Sake-Beeld lees; hy wil my opinie daaroor vra. Hy is ’n pa 1000 en nog ’n man 1000 ook.

Suidooster se Jill Levenberg

Vadersdag

Jill en haar pa, Joey

Wat is/was die beste raad van jou pa?
Die een ding wat my bybly is sy raad dat mens nie moet bekommerd wees oor wat ander mense van jou dink nie. Moenie dat ander mense se menings oor jou die oorhand kry nie, want dit wat jy van jouself dink, is wat eintlik tel. Mens moet ook nie altyd net wil baklei nie, want soms moet mens weet wanneer dit nodig is om weg te loop.

Wat het jou pa jou geleer?
As kind het my pa vroeg-oggend, soms kort voor 05:00 die oggend, my wakker gemaak om saam met hom te gaan draf. Dit het my die waarde van tyd en uithouvermoë geleer, want mens moet ook nie bang wees vir harde werk nie. Ook, daar moet balans tussen jou werk en verpligtinge by die huis wees – en boonop is daar nie iets soos ’n werk wat net vir ’n man of net vir ’n vrou is nie.

Wat is jou boodskap aan jou pa vir Vadersdag?
Ek kan nie genoeg vir hom sê hoe ek hom waardeer nie. Ek sien vandag nog hoe hard hy werk en ek het soveel respek vir hom. Hy is ’n goeie pa vir ons en ek is ongelooflik lief vir hom. En ek sou hom vir geen ander pa in die wêreld verruil nie!

Suidooster se Irshaad Ally

Vadersdag

Irshaad en sy dogter, Rahmah

Wat het jy nie geweet van Vadersdag nie?
Vadersdag gaan nie oor my nie. Dit gaan eerder oor ons as gesin… En ons moet mekaar eintlik daagliks vier, waardeer en liefhê.

Wat is vir jou die lekkerste van pa-wees?
As ek in die oggend wakker word en ek sien hierdie klein dogtertjie (haar naam is Rahmah), wat net ’n bondeltjie liefde is. Dis onskatbaar as sy so mooi glimlag as ek in haar oor fluister hoe baie sy vir my en my vrou beteken.

Wat is vir jou minder lekker van pa-wees?
Die feit dat mens nooit genoeg tyd het om saam met jou kind deur te bring nie. Mens moet so hard werk om haar ’n goeie lewe te gee, maar dis ’n opoffering wat mens moet maak.

Wat is jou wens vir jou kind?
Sy moet ’n goeie mens wees en ’n bydrae tot die gemeenskap kan maak. Natuurlik moet sy ook gelukkig wees.

Suidooster se Gideon Lombard

Vadersdag

Gideon en sy pa, Christo

Wat is/was die beste raad van jou pa?
Toe ek 12 was, het ons as gesin Kalifornië toe getrek. Vir my en my broer was dit ’n moeilike ouderdom om opnuut iewers te begin. Ons het Namibië en ons vriende vreeslik gemis en ons ouers, veral my pa, baie bewus gemaak van die feit. My pa het toe vir ons albei gesê dat as hy een wens het vir ons as kinders en as mense, is dit dat hy hoop ons nie klein lewens sal lei nie.

Wat is/was jou pa se beste braaiwenk?
My pa het van vroeg af ’n groot liefde vir potjiekos in my gekweek. Sy beste wenk was om die voorbereiding deeglik te doen, die bestanddele in die regte volgorde te gebruik en dan terug te staan om die proses te vertrou.

Wat het jou pa jou geleer?
Om meer te luister as wat mens praat en om altyd ’n tipe filosofiese, vraende benadering te koester in verband met ander se omstandighede.

Wat is jou boodskap aan jou pa vir Vadersdag?
Liewe Pa, dankie dat jy vir my ’n lewe van kennis, kultuur en reis gegee het. Dat jy ’n punt daarvan gemaak het om jou wonderbaarlike insig in die lewe met jou gesin te deel. Gelukkige Vadersdag. Dit is vir my ’n eer om jou my Pa te noem.

Binnelanders se Cindy Swanepoel

Vadersdag

Cindy en haar pa

Wat is/was die beste raad van jou pa?
My pa se beste raad is nog altyd: “Moenie lieg nie!”

Wat is/was jou pa se beste braaiwenk?
Ek beskou my pa as die beste braaier wat bestaan! Jou kole moet net reg wees en die spices wat jy gebruik is baie belangrik. My pa maak ’n spesiale braai-spice – ek soek nog die resep!

Wat is jou boodskap aan jou pa vir Vadersdag?
Ek is so dankbaar vir al die lewenslesse en wysheid wat hy met my deel. En dat hy my verstaan en toelaat om die mens te wees wie ek nou is. Ek is so bevoorreg en dankbaar om baie aande en vuurtjies met geselsies met hom te kon deel, en ek hoop daar is nog baie hout wat gebrand kan word! Ek is verskriklik lief vir hom en trots om sy dogter genoem te word.

Binnelanders se Hannelie Warren

Vadersdag

Hannelie en haar pa

Wat is/was die beste raad van jou pa?
“Kwalifiseer jouself so goed as moontlik, bemagtig jouself met kennis en doen jou huiswerk voor jy ’n opinie vorm of lewer.” My pa deel nie net sy raad nie, hy volg dit self. Daar is nie ’n meer belese man nie, en dis heerlik om met hom te gesels. My passie vir boeke kom direk van my pa af en daar gaan nie ’n kuier verby waar ons nie boeke uitruil, deel, raadpleeg of bespreek nie.

Wat is/was jou pa se beste braaiwenk?
“Gaan roep jou ma om te kom kyk”.

Wat is jou boodskap aan jou pa vir Vadersdag?
Pappa is nie net my klankbord en my raadgewer nie, maar ook my lewenskompas. Dankie! Ek kon nie vir ’n meer perfekte pa gevra het nie. Maak nie saak hoe groot en oud ek word nie, ek is altyd my pa se poplap.

Binnelanders se Je-ani Swiegelaar

Vadersdag

Je-ani

Wat is/was die beste raad van jou pa?
Jy bestuur/kyk altyd vir al die mense wat saam met jou op die pad is, nie net vir jouself nie. Hy het ook altyd (partykeer nog steeds) vir my gesê: “Party mense moet net so ’n klein bietjie harder werk as ander om te wees waar hulle wil wees.”

Wat is/was jou pa se beste braaiwenk?
Ons hang altyd ons braaiwors so bietjie in die wind sodat dit ’n lekker skilletjie maak, en dan braai ons dit.

Wat is jou boodskap aan jou pa vir Vadersdag?
Ek wil net vir my pa sê hy moet ’n baie lekker dag hê en vir hom dankie sê vir die laaste 30 jaar se ondersteuning en liefde – ek wardeer dit.

Safari 4×4 Roetes se André de Villiers

Vadersdag

André en sy kinders

Wat is/was die beste raad van jou pa?
Om ’n reguit en eerlike pad te stap en met alles wat jy aanpak jou beste te lewer!

Wat is/was jou pa se beste braaiwenk?
Die hoogte van die rooster afhangend wat jy braai!

Wat is jou boodskap aan jou pa vir Vadersdag?
Dankie vir alles wat Pa my geleer het oor die jare!

Vertel bietjie meer oor jou pa.
Hy was ’n baie vasbeslote persoon met ’n passie vir alles wat hy gedoen het.

Wat het jy nie geweet van Vadersdag nie?
Watter datum is dit?

Wat is vir jou die lekkerste van pa-wees?
Om jou kinders die feite van die lewe te leer.

Wat is vir jou minder lekker van pa-wees?
Om pakslae uit te deel, en daardie doeke skoonmaak.

Wat is jou wens vir jou kinders?
Dat almal suksesvol en gelukkig deur die lewe gaan!

Safari 4×4 Roetes se Petri de Wet

Vadersdag

Petri

Wat is/was die beste raad van jou pa?
Om ander mense in ag te neem.

Wat is/was jou pa se beste braaiwenk?
Gaan vang ’n vis, dan braai ons vleis en vis.

Wat is jou boodskap aan jou pa vir Vadersdag?
Pa is ’n inspirasie vir my en baie ander mense. Dankie daarvoor en hou so aan.

Vertel bietjie meer oor jou pa.
My pa is ’n sanger wat baie hard werk en die wêreld vol toer en hy is mal oor motorfiets ry.

Wat het jy nie geweet van Vadersdag nie?
Net die liefde wat ek ervaar het van my hele familie af.

Wat is vir jou die lekkerste van pa-wees?
Om presente te gee.

Wat is vir jou minder lekker van pa-wees?
Skool-aktiwiteite.

Wat is jou wens vir jou kinders?
Ek wens dat my kind die Here sal dien en dat sy die lewe voluit sal lewe.

The post Vadersdag: Dankie, Pa! appeared first on Kyknet.

Sy Klink Soos Lente bring ’n vars briesie

$
0
0

Stiaan Smith en Amalia Uys

Bouwer Bosch Films in samewerking met kykNET en King Price bied aan: Sy Klink Soos Lente

Sy Klink Soos Lente is ’n eiesoortige romantiese komedie. ’n Motorwerktuigkundige loop sy baas se dogter in ’n kroeg raak. Onkant gevang deur haar sjarme, vertel hy haar hy’s in ’n band. Hy en sy vriende van die werkswinkel is dan natuurlik genoodsaak om werklik ’n band te begin in ’n poging om haar hart te wen.

Vervaardigers: Bouwer Bosch, Danie Bester, Rachelle Crous, Stiaan Smith en Tina Kruger
Regisseur: Corne van Rooyen
Met o.a.: Amalia Uys, Stiaan Smith, Bennie Fourie, Wilson Dunster, James Cunningham, Darren Kelfkens, Bouwer Bosch en Tina Kruger
Datum: 30 September 2016

Sy Klink Soos Lente Sy Klink Soos Lente Sy Klink Soos Lente

Hou dié blad dop vir al die nuus oor kykNET Films.

The post Sy Klink Soos Lente bring ’n vars briesie appeared first on Kyknet.

Fluiters: Wie luister en wie fluister?

$
0
0

Dié artikel is ’n uittreksel uit ’n artikel in die jongste uitgawe van kykNET se digitale tydskrif, Digityd.

Fluiters vertel van die wêreld van korrupsie, wapensmokkelary en kuberkraking.

Die regisseur van Fluiters is Jozua Malherbe, wat ook vir die trefferreeks Bloedbroers verantwoordelik was.

Jozua gesels hier en hier met kykNET oor die karakters en storielyn.

Bloedbroers was ’n wonderlike uitdaging en ek het baie daaruit geleer oor hoe ek my medium aanpak en hoe ek dus ’n storie kan vertel,” sê Malherbe. “Ek het baie van hierdie lesse oorgebring na Fluiters. Die reeks is ’n spanningsdrama, maar daar is tog dinge wat met Bloedbroers oorvleuel soos vele hoofkarakters, aksietonele en groot emosionele tonele. Die groot verskil is natuurlik dat die een reeks in 1918 afspeel en die ander in 2016.

“Ek het met dieselfde span as op Bloedbroers gewerk en ons oogpunt was om ’n super moderne wêreld te skep, een wat ons almal ken en al gesien het. Ons het almal navorsing oor moderne tegnologie gedoen en wat op die oomblik met globale spioene aangaan, maar ook om vir ons ’n wêreld te skep waaruit die karakters kom.”

Malherbe geniet dit om oor wêreldsake en tegnologie te lees en tel Wired en Forbes onder sy gunsteling tydskrifte.

“Dit is vir my fassinerend hoe ons lewens deur tegnologie verander word en hoe ons privaatheid skaars word juis omdat ons almal so ‘connected’ is. Fluiters is so relevant vir almal wat ’n selfoon of rekenaar het en wys die ander kant van hierdie muntstuk. Daar word gedink dat die tegnologie se donker kant nie Jan Alleman raak nie, maar dis nie waar nie. Ek was dus van die begin baie opgewonde om by die reeks betrokke te raak.”

Sal selfs mense wat tegnologies gestrem is die reeks verstaan?

Deon (Opperman) se tekste is universeel,” sê Malherbe. “Hy weerspieël die emosies en verhoudings van mense van alle ouderdomme, rasse en kulture en dit is juis wat sy tekste so sterk maak.

Fluiters gaan ook oor meer as tegnologie. Dit gaan oor vriendskap en huwelike, oor taal en kultuur.

“Die kykers gaan beslis meer weet oor internasionale en plaaslike regulasies en hoe tegnologie teen jou gebruik kan word. Hulle gaan twee keer dink voor hulle iets op Facebook skryf…”

Kyk Fluiters, Dinsdae om 20:00.

The post Fluiters: Wie luister en wie fluister? appeared first on Kyknet.

Koekedoor: Liefdeskoek vir die wittebrood

$
0
0

Haar troudag is sekerlik die grootste dag in enige vrou se lewe, maar dis nie troukoek wat die beoordelaars vandeesweek in gedagte het nie.

Vandeesweek moes die vier oorblywende Koekedore raakvat om Mari-Louis se liefdeskoek tydens die fyngebak-uitdaging veilig oor die drumpel te kry.

Koekedoor_Liefdeskoek 4

“Dis ’n tong in die kies,” sê Mari-Louis. “Dis ’n kamerkoek wat jy eet as jy nie baie geeet het by die troue nie.

Sy vertel verder: “Die bruid en bruidegom, wat so baie meng met die gaste by die troue, kom ná die onthaal by die hotel en is doodhonger en dan pak die hotelle vir hulle so koekie in”.

Dié liefdeskoek bestaan uit drie lae lemoenkoek. Volgens Mari-Louis was lemoenkoek gebruik omdat dit iets oud is en al so bekend is in gebak, en dat daar gespeel word met die Engelse segte something borrowed, something blue, something old and something new.

Verder sê sy dat die koek aan die kante naak gehou word weens die geur van die koek.

Dié koek het ’n heerlike melkvulsel en die bo-kant bestaan uit ’n verskeidenheid van versiering wat onder meer sjokoladewerk, Turkse suikerwerk en Persiese lekkers, ook bekend as tut-lekkers, bestaan.

Volgens Mari-Louis is dit deesdae die tendens om die koek naak te hou en bo-op dramaties te versier. “Die partytjie gebeur bo-op die koek.”

Vir die liefdeskoek is daar egter dieper betekenis agter die versiering bo-op. “Daar is so baie goed op dié koek en die rede hiervoor is die uitbeelding van twee huise wat bymekaar gebring word… daardie lelike bierbeker van die man en die mooi porselein van die vrou…”

Mari-Louis sê dat die grootste uitdaging met dié koek nie die bak daarvan is nie, maar die Turkse suikerwerk, omdat dit grower as spookasem is en temperatuur ook ’n belangrike rol speel. “Dit is ’n baie lekker tegniek om dop te hou.”

Koekedoor Koekedoor_Liefdeskoek

Haar raad aan amateur bakkers by die huis is om dié koek sistematies aan te pak.

“Die tut-lekkers kan jy ’n dag voor die tyd maak. Jou sjokoladeskerwe het jy tyd om vooraf te maak. Jy hoef dit nie alles in een dag te maak nie,” sê sy. “Dit moet ’n romantiese koek wees.”

Vir baie bruide is ’n kombuistee tradisie. Die Koekedore het dié week mekaar se staatmaker-resepte – flatervry genoeg vir ’n nuwe bruid – getoets. Kyk die video hier.

The post Koekedoor: Liefdeskoek vir die wittebrood appeared first on Kyknet.

Binnelanders gaan donderslae tot in September voel

$
0
0

In Julie bars daar ’n storm los in Binnelanders waarvan die donderslae nog tot in September gevoel sal kan word!

Die Kosters roep die hulp van Maggie Kruger in om Conrad se verdediging te behartig wanneer Rian net nie die mediese nalatigheid-saak wil laat vaar nie. Dit beteken natuurlik dat ’n hele paar ongemaklike vrae gevra word, en dat die Kosters gaan moet rondspring om te verseker dat Conrad nie van die mediese rol geskrap word nie. Maar net hóé gaan hierdie dilemma die interpersoonlike verhoudings in die gange van Binneland Kliniek beïnvloed?

Binnelanders

Pippa is alreeds nie baie beïndruk met haar man nie, en ’n mens kan maar net wonder of hierdie die grootste toets (tot op datum) gaan wees vir die Malherbes se verhouding. Is Rian onredelik, of is dit juis Pippa se aandrang daarop dat hy die saak moet laat vaar wat die geliefde paartjie se lojaliteit teenoor mekaar toets? En dan is daar natuurlik die ander vraag: roes ou liefde, met tyd, of vat dit weer vlam onder baie moeilike omstandighede? Want as dit die laaste geval is, is daar ’n nuwe vuurtjie wat kan begin knetter…

Binnelanders

Gepraat van liefde: wat op dees aarde gaan met Steve en Annelize aan? Is die feit dat Steve getroud is nie reeds ’n afweermiddel vir Annelize se obsessie nie? Of is Annelize nie die een wat die obsessie het nie? Hoe sou Bronwyn reageer as sy moet uitvind dat haar eertydse beste vriendin nog al die tyd hunker na die begeerlike plastiese chirurg? Of is dit nie Annelize wat die hunkering beleef nie? ’n Mens sou hoop dat twee volwassenes sal weet hoe en wanneer om die kat in die donker te knyp – maar soms is die donker net te alleen om die knypwerk te voltooi…

Binnelanders

Daar is natuurlik nie net verskuiwings binne persoonlike verhoudings wat hierdie maand kop uitsteek nie: met Adelyn Jacobs uit die prentjie, trek die ander twee geliefde verpleegstertjies Naomi en Karli maar swaar aan die huur wat hulle moet betaal. Is dit dalk tyd vir die meisies om ’n ander heenkome te soek, sodat hulle een minder ding het om oor bekommerd te wees deur die dag? Deon is ook opsoek na ’n plekkie om sy eie te noem, en Tertius gaan sy lewe in volle erns van voor af moet begin bou – maar waar begin ’n mens wanneer jou vrou en kind in Rustenburg sit?

Binnelanders

Bekommernisse is ook iets wat vir Okkie en Ilse hierdie maand ’n kopseer gaan word, wanneer Okkie ontstellende nuus uit die Vrystaat kry – dit wil voorkom of die skrif aan die muur is vir die slaghuis! Sente omdraai is nie ’n vreemde ding vir Okkie nie, maar om noustrop te trek is ook iets waaraan hy gewoond sal moet raak indien hy die toekoms van die slaghuis wil verseker. Gelukkig is Okkie ’n boer wat altyd ’n plan kan maak – maar vir hoe lank? En watter harde bene gaan hy moet kou om te verseker dat hy nie aan die kortste ent trek teen die einde van die maand nie?

Gelukkig lyk dit nie asof Binneland Kliniek dieselfde finansiële probleme ondervind as die Ferreira’s nie – daar is die moontlikheid van ’n nuwe onkologie-sentrum wat op die been gebring kan word! Om hierdie droom wel ’n werklikheid te maak, is daar natuurlik ’n hele paar raadsaal-vergaderings waar idees en voorleggings bespreek moet word. Dit kan heelwat nuwe pasiënte (op soek na sorg van topgehalte) en publisiteit vir die private hospitaal besorg, indien almal hul beste voetjie voor sit om te verseker dat die tender aan Binneland Kliniek toegeken word. Hoekom lyk At Koster dan so vaal om die kiewe? Is daar iets wat hy wegsteek vir almal (’n gesondheidstoestand, nog ’n geraamte in sy kolosale kas, of iets baie erger) of is dit pleinweg net sy ouderdom wat teen hom begin tel in sy besluitnemingsprosesse?

Binnelanders

Die raadsaal is ook nou nie die plek om jou vriendskappe te toets nie. Ons het reeds verlede maand gesien wat gebeur het met Annelize se pos, en ’n mens hoop dat die Kosters ’n groter alliansie bewerkstellig het met die res van die raad. Ongelukkig wil dit voorkom of Rian die hef in die hand het, veral wanneer hy vir Jana iets wys wat haar tot in haar diepste wese skok. ’n Stukkie beeldmateriaal is al wat ’n man deesdae nodig het om ’n vrou se stem te swaai – en Rian is ’n uitgeslape besigheidsman. Of is hy so uitgeslape soos wat hy wil voorgee?

Deon, Karli en Wilmien het dit ook nie maklik in Julie nie. Deon sukkel om aan te pas by sy mentor se probleme – en die manier waarop hy sy persoonlike probleme werk toe bring – en dit maak dat hy onseker voel oor waarmee hy besig is. Aan die ander kant probeer Wilmien haar beste om in te pas by haar nuwe lewe, maar dit wil voorkom asof sy swaar dra aan die bagasie uit haar verlede. Terwyl Karli probeer om haar toekoms meer rooskleurig te maak, is dit ook maar ’n aanpassing om die besluite wat geneem is deur te sien – al kry sy ook hulp vanuit ’n onverwagse oord.

Binnelanders

Conrad se probleme raak ook net groter. Sy hart is blykbaar in beheer van sy besluitnemingsprosesse, meer as wat sy brein is, en dit kan net moeilikheid beteken. Dit is dan ook nie snaaks wanneer Conrad se hart begin roep na die een persoon wat hom uit sy donker hoekie kan lok nie – en dit is glad nie wie enigiemand sou verwag het dit is nie. Is hierdie verhouding iets wat daar met alle mag en krag geveg voor moet word? Of is dit ook maar een van daardie kortstondige besighede wat die tyd gemakliker laat verby vlieg?

Teen die einde van Julie lyk dit asof nuwe vriendskappe gesmee is, en of daar strepe in die sand getrek is vir die nuwe uitdagings wat in Augustus kop gaan begin uitsteek. Want op ’n daaglikse drama soos hierdie is niemand en niks veilig nie.

Kyk Binnelanders, elke weeksaand om 19:30.

The post Binnelanders gaan donderslae tot in September voel appeared first on Kyknet.


Kwêla: Funnies en Feite & Geite

$
0
0

Dis uiteindelik weer tyd om jou video’s in te stuur vir Kwêla se Funnies- en Feite & Geite-kompetisie!

As jy ’n video het wat iets skreeusnaaks of oulik vasvang, of enige interessante of verbasende gebeure in die natuur verfilm het, skryf dit dadelik in om in aanmerking te kom vir een van vanjaar se heerlike pryse. Daar is selfs vakansies na Zanzibar en Mauritius op die spel!

Jou inskrywing (die inskrywingsvorm sowel as die bepalings en voorwaardes is hier onder beskikbaar) kan gepos word na:

Kwêla Amateur Videokompetisie 2016

Postnet Suite 248
Privaatsak X1
Vlaeberg
8018

Of jy kan jou video per e-pos stuur na: funnies@kwela.tv of feitegeite@kwela.tv.

Inskrywings sluit op 31 Augustus 2016. Opskud!

Vir navrae, kontak Liezel Loubser tydens kantoorure (Maandag tot Vrydag, 9:00 tot 17:00) by 021 422 3452.

SKRYF IN

Klik hier om die inskrywingsvorm af te laai: Kwela Funnies en Feite & Geite Inskrywingsvorm

Klik hier om die bepalings en voorwaardes af te laai: Kwela Funnies en Feite & Geite Bepalings en Voorwaardes

Om jou video en inskrywingsvorm via WeTransfer te stuur, klik hier vir die stappe: Kwela Funnies en Feite & Geite WeTransfer

Kyk ook dié video vir al die nodige stappe:

The post Kwêla: Funnies en Feite & Geite appeared first on Kyknet.

Koekedoor: Troukoeke van toeka tot nou

$
0
0

Sodra die ja-woord gegee is, begin die bruid oor twee goed droom: die trourok en die troukoek.

Troues word al van antieke tye af met ’n spesiale koek herdenk. Vir goeie geluk het die Romeine koek oor die bruid se kop gebreek. Die gaste het krummels huis toe geneem vir hul eie geluk.

Dié krummels het later konfetti geword. Baie simbole en bygelowe is ook deur die eeue gekoppel aan troukoeke, soos dat ’n bruid nie haar eie troukoek moet bak nie.

Die wit troukoek kom uit die Renaissance-tydperk, voor die dae van harde versiersel, bekend as royal icing.

Die koek is warm uit die oond versier met ’n tipe meringue van eierwit en suiker. Nie net was die wit van troukoeke ’n simbool van reinheid nie, maar ook van status en aansien, want suiker moes drie keer verfyn word om dit so wit te kry en was daarom baie duur.

Harde versiersel is die eerste keer vir koningin Victoria se troukoek gebruik en het só die naam (royal icing) gekry. Die harde versiersel het die koek bewaar, sodat die boonste laag op die eerste herdenking of as doopkoek vir die eersteling gebruik kon word

Die tradisie om troukoek van baie lae te maak, met ’n spiraal bo, is simbolies van katedrale en kerke se torings, wat die gewyde verbintenis van die seremonie uitbeeld. Dikwels was die meeste lae net van versierde karton gemaak, met een eetbare laag.

Die afgelope paar dekades het troukoeke meer informeel geword en kontemporêre troukoeke word verpersoonlik in alle kleure, geure en vorms. Die belangrikste is dat dit heerlik moet wees, want dit word gemaak om te eet eerder as net vir vertoon.

Koeklose troue

Dit het tradisie geword vir Koekedoor om af te sluit met troukoek-bak. Errieda du Toit, inhoudsvervaardiger: kos vir Koekedoor, vertel dat die saamstel van die finale uitdaging haar elke jaar herinner dat sy 34 jaar gelede skoon vergeet het om ’n troukoek te laat bak vir haar eie troue.

Baie kos, baie mense, baie heildronke, mense van heinde en ver, Tant Koek se Hoenderhaan, ’n gewaagde grappie of twee en ’n troukoek wat hemel toe troon. Dís mos ’n boeretroue.

My eie trou-onthaal was ’n meer stigtelike oggendtee in ’n kerksaal vol vriende, familie en kinders. Ma het ‘platters’ van ’n Pick n Pay-spysenieringspamflet af gekies. Die bruidskoek het geskitter in sy afwesigheid. Ma’t gedog ek reël dit en ek dog dis op haar doen-lysie (die troue is oor ’n afstand gereël). Vier-en-dertig jaar later hou die troukoeklose huwelik steeds.

Vervoer-logistiek en gereedskapskis

Dit was ironies dat ons buurvrou se dogter Anel Franken mý sou vra om haar troukoek te maak. My eerste en laaste troukoek, glo ek. My man Ian reël die vervoer-logistiek Langebaan toe en sal sorg dat die drie koekvlakke waterpas-gelyk gestapel word, met ingenieurspresisie versterk. Hy pak ’n gereedskapkas van tange, bloemistedraad, hamers en houtstokke. In die proses ontdek ons sy verskuilde koekversiertalent.

“Hanteer die paletmes soos ’n troffel en die versiersel soos pleister” is sy raad vir ’n gladde afwerking.

Ons word ’n geoliede koekmasjien. Die huwelik verwag mos juis dat twee mense een wese word. Saam gaan soek ons vars blomme uit vir die koekversiering (ek is te dom vir suikerkunsblomme). Die woestynrosies kom uit die bruid se ma se tuin. Die plaasmense van Klein Namakwafontein by Piketberg pluk hul mooiste koningprotea en veldblomme wat net hierdie tyd van die jaar blom. By die Oranjezicht-mark loop ek my impuls-kopie raak, wit peonies, almal se lieflingsblom.

Gee en neem

Troukoek

My wederhelf maan my teen ‘oorversiering’, want hy ken my oordadige geaardheid. Ons tref ’n yin-yang-kompromie. Die bolaag en die silwer koekstaander word ’n blommetuin van fynbos, vetplante en peonies – die twee ander lae ’n studie in eenvoud.

’n Koektooisel (‘cake topper’, tipies van ’n troukoek) voltooi die sirkel. Ek plaas die hartjie waarop ‘mevrou’ staan bo-op en hy druk die ‘meneer’ in, ietwat voor die mevrou, maar laer ingesink. Gee en neem.

Die troue is hartlik, ek word gevra om ’n toespraak oor die troukoek te lewer. Die blommemeisies se rosekransies is lankal afgespeel, kortasem oor die wonder van die dag.

Feesmaal, eerste maal

Ons móét groot en geil eet by ’n troufees. Die moderne wêreld stroop ons toenemend van rituele, seremonies en ’n ryk gemeenskapslewe. Om getuie te wees van ander mense se groot oomblikke gee betekenis aan ons eie lewe.

Toe-oë toe kry ek berusting oor my en Ian se troukoek-lose bruidsonthaal met ‘platters’ vir troukos. Dit gaan nie oor wat op die koekbordjie of grootbord is nie, maar dat dit die eerste saameet is van die paartjie as getroud.

“Dis die beste dag in my lewe”, sê Bella, die blommemeisie en dogter van die bruid. Sy staan styf teen haar ma en nuwe pa toe die troukoek gesny word. Ek moet ook help om die pragstuk te sny. Die gaste staan tou, die komplimente stroom in.

Op pad huis toe ontdek ek ’n taai streep troukoekversiersel in my hare, ’n stil getuie dat ek deel was van ’n groot nuwe begin.

Resep: Pikgitswartsjokoladekoek met Nutella en wit botterversiersel

Errieda het hierdie pikgitswartsjokoladekoek met Nutella-vulsel, wit botterversiersel en vars blomme en vetplante versier. Dis vir enige feestelikheid geskik.

Die resep is deur Christine Capendale en maak ’n drielaag-koek van 23 cm. Vir ’n 30 cm-troukoek: maak die beslag dubbel aan en verdeel die beslag tussen 3 x 30 cm-koekpanne.

Koek

300 g meel
125 g kakao
5 ml sout
12,5 ml koeksoda
10 ml bakpoeier
500 g strooisuiker
5 eiers
5 ml vanieljegeursel
320 g karringmelk
180 g gesmelte botter
320 ml melk
Vir versiering: 1 fles Nutella-sjokolade-haselneutsmeer en botterversiersel

Metode

Smeer drie panne van 23 cm en voer uit met bakpapier. Voorverhit oond tot 180 °C.
Sif die meel, kakao, sout, koeksoda, bakpoeier en strooisuiker saam.
Klits eiers saam met die karringmelk en vanielje, voeg die gesmelte botter by en roer dit saam met die melk by die meelmengsel tot ’n beslag – dit is ’n redelike loperige beslag.
Verdeel die beslag tussen die drie voorbereide koekpanne.
Bak sowat 40 minute tot gaar. Koel af. Smeer Nutella en botterversiersel tussen die lae. Rond die kante en bo-kant af met die res van die botterversiersel. Die koek kan versier met gesmelte sjokolade-ganache wat by die kante afdrup en sjokolade-krulle, of versier met vars blomme.

Botterversiersel

1 kg versiersuiker, gesif
375 g botter
125 ml wit margarien (of Stork)
10 ml vanielje-ekstrak
2 ml amandel-essens
40 ml melk

Metode

Klits die botter en die margarien goed saam met die K-hegstuk van jou Kenwood-staanmenger tot lig en romerig. Voeg 1 koppie van die versiersuiker, die vanielje-ekstrak en die amandel-essens by. Klits goed saam. Voeg in 3 sarsies die orige versiersuiker by – klop eers op lae spoed en dan op hoog tot lig en romerig. Om meer smeerbaar te maak, gooi melk by soos nodig.

Errieda du Toit is die inhoudsvervaardiger: kos van Koekedoor en skrywer van die ‘Kokkedoor’- en ‘Koekedoor’-bakboeke, waarvan die nuutste ‘Koekedoor 2’ ook deur Human & Rousseau uitgegee word. Haar eie boek ‘Tuistafel’ verskyn in November. Volg haar kosblog Huiskok.com of op Twitter by @huiskok.

The post Koekedoor: Troukoeke van toeka tot nou appeared first on Kyknet.

Koekedoor het nuwe bakliefling – en ’n kuiken skrop in die stoor

$
0
0

Aan die einde was dit ’n troukoek wat die haan onder die henne se doppie geklink het toe Corli van Pretoria die Kapenaar Wessels geklop het in die eindrondte van Koekedoor 2, kykNET se werklikheids-bakkompetisie, wat op 7 Julie uitgesaai is.

By ’n spesiale geleentheid in Kaapstad, wat saamgeval het met die finale episode se uitsending op kanaal 144, het kykNET die wenner en naaswenner se pryse oorhandig, na die verrassende nuus van die nuwe kuiken Kokkedoortjie, ’n kook- en bakkompetisie vir kinders tussen 9 en 13 jaar.

Koekedoor 2, die bakboek met 120 resepte uit die reeks, wat in samewerking met Human & Rousseau uitgegee word, is ook by die geleentheid bekendgestel en is van 21 Julie op die rak.

Die aand het egter behoort aan Corli, die land se nuwe bakliefling. Die beoordelaars wat haar troukoek die ja-wood gegee het – Mari-Louis Guy, Tiaan Langenegger en Tannie Elizabeth Cloete – het beslis dat Corli se “mooi-van-buite”, netjies-afgewerke troukoek met keurige delikate versiering die ietwat rustieke, “mooi-van-binne”-koek van Wessels getroef het.

Daarmee wen sy nie net die titel as Suid-Afrika se beste amateurbakker nie, maar ook die grootste prysgeld ooit in ’n Suid-Afrikaanse bakkompetisie. Sy ry huis toe met die nuwe Suzuki Ciaz-sedanmotor, R200 000 kontant, ’n Human & Rousseau-kookboekkontrak, ’n Rolkem/Capsicum-suikerkuns-kursus van R50 000. (Haar kook- en bakboek, Corli se Kombuis, verskyn op 16 Augustus).

Koekedoor

Naaswenner Wessels, wie se kalmte en kenmerkende koppie tee in die hitte van die stryd die beoordelaars en sy groot kring aanhangers deurgaans beïndruk het, kry ook ’n snytjie van die koek: R50 000 kontant van Safari Dried Fruit en ’n suikerkursus ter waarde van R35 000. Soos Corli, neem Wessels ook Kenwood-toerusting as prys in die eerste episode huis toe (wat die raserige een vervang het waarmee hy al jare lank bak en sy bure wakker gehou het).

Koekedoor

Vir haar triomfantelike Delft-geïnspireerde troukoek het Corli haar kenteken-suurlemoen-en-jogurtkoek, vanielje-sponskoek en botterkoek afgewissel met vulsels en strope in geure van lemmetjie-schnapps, geroosterde klapper, witsjokolade-soutkaramel en grondboontjiebotter. Versiering wat soos blou borduurwerk en Delft-pastrone lyk is met die versierbuis en verfkwas geskep.

Corli het haarself deur en deur bewys as die ‘Survivor’ van die bakwêreld om na 35 uitdagings in dertien episodes steeds met soveel grasie staande te bly, reken beoordelaar Mari-Louis Guy, wat die tegnies-ingewikkelde fyngebak-bakuitdagings ontwerp het.

Hoewel Wessels se eerste troukoek lekker gesmaak het en die stempel van sy andersdenkendheid dra, meen Tannie Elizabeth Cloete dat Corli se smaak-kombinasies, versieringsvaardighede en afgerondheid van haar gebak die deurslag gegee het. Tiaan voeg by: “Selfs met ’n kompetisie soos hierdie vir amateurs sien ons hoe belangrik dit is dat bakkers wyd moet kan bak, met ervaring in tradisionele gebak, basiese kennis van gisgebak en brood en weet van nuwe baktendense en versiersingstegnieke wat nou mode is. So kan oud en nuut mekaar vind.”

Corli en Wessels het hulfself al in die reeks se openingsepisode onderskei toe hulle as episode-wenners aangewys is, onderskeidelik vir die beste bordjie soetgebak en beste soutgebak. Van die ander gebak wat deel van die uitdagings was sluit in ’n misterieuse Brooklyn Blackout-koek, outydse en moderne poedings, tradisionele vleispasteitjies, deftige pannekoek-stapelkoeke, bedrieglik-maklike sitrusterte wat bakkers ore aangesit het, ’n parmantige biertjippietert, nuwerwetse ooievaarskoeke wat geheime verklap, pronkerige pavlovas, pretpark-koeke oorgetrek in gewraakte swart fondant (wat steeds by hulle spook), stapels gebou van oliebolle, moderne hibried-gebak en ’n pretzel-muur.

Koekedoor is verfilm op Twee Jongegezellen-landgoed buite Tulbagh. Die ander deelnemers was Sanet van Saldanha, wat tot die semi-finaal deurgedring het, Kanya van Melkbosstrand, Wilandi van Port Elizabeth, Tara van George, Anja van Delmas, Suretha van Pretoria, Martie van Bloemfontein en Elmarie van Sasolburg.

Marguerite Albrecht, die opdraggewende vervaardiger van dié kykNET-reeks sê dat kykers die reeks omhels. “Dit gaan oor meer as net die gebak. Kykers vind emosioneel aanklank by die deelnemers, word geïnspireer deur hulle kreatiwiteit en word saam met hulle nostalgies oor die gebak waarmee hulle grootgeword het. Koekedoor-aanhangers is geboei deur die menslikheid, die lief en die leed, die suksesse en die flops, die trane, blydskap en pittige sêgoed.”

Nuwe kombuis-dansstappies soos die Tarentaal-dans het sosiale media laat gons, terwyl kykers hul waardering vir die gehalte van die produksie, kamerawerk, klankbaan en stelinkleding uitspreek.

Koekedoor is vir kykNET vervaardig deur Homebrew Films. Die reeksregisseur is Sanet Olivier. Chris Lotz is die regisseur vir fotografie, Harold Webster die produksie-ontwerper en Errieda du Toit die inhoudsvervaardiger: kos.

Pick n Pay is die hoofborg. Pryse in ander episodes was Kenwood-toerusting, ’n SMEG-gasstoof geskenk deur Olive Pride, houtware van My Butchers Block, Lekkeslaap-geskenkbewyse en ’n eetstel van Mervyn Gers Ceramics. Top-drie-wenner Sanet Eigelaar het ’n kunswerk van Alex Hamilton ontvang.

MEER OOR CORLI (WENNER)

Corli van Pretoria is ’n kranige entrepeneurbakster wat haar liefde vir bak van haar Ouma Corrie kry. Haar droom-onderneming Corli’s Kitchen is nou ’n werklikheid. Terwyl sy en haar rugbyspelerman Gary in Frankryk gebly het het sy die kans benut om verskeie Franse fyngebaktegnieke aan te leer. Hy en haar dogter Kaitlyne is haar grootste ondersteuners. Corli glo as jy met liefde bak jy dit in die gebak kan proe. “Bak het my nog altyd laat goed voel. Dit gee uiting aan emosie, dit stimuleer die sintuie, dis kreatief en natuurlik is dit die plesier om iemand te bederf met my gebak.”

Sedert die reeks se verfilming in Oktober 2015 voltooi is, het Corli baie tyd in haar kombuis deurgebring om haar prys-kookbook te finaliseer. Corli se Kombuis is ’n wenner soos syself en is propvol kos en gebak met haar stylvolle stempel. Die uitgewer is Human & Rousseau en die publikasiedatum is 20 Augustus 2016.

MEER OOR WESSELS (NAASWENNER)

Wessels moet sy gebak inpas tussen sy werk as klerk by die balju in Simonstad. Naas bak is tuine sy passie. Sy droom is om ’n koffiewinkel by ’n kwekery te bedryf. Hy begeer ook om eendag ’n tuin vir die Chelsea Blommeskou in Londen te ontwerp. ’n Groot sprong nader aan hierdie droom is dat Garden World in Muldersdrif, Johannesburg, hom genooi het om ’n Koekedoor-tuin te ontwerp vir die kwekery- en troubestemming se Lente-fees wat op 29 Julie vir die publiek open.

“Ek bak want dis die vinnigste manier om myself kreatief uit te leef; ’n tuin vat soveel langer. Met bak kan ek in 15 minute iets lekkers en mooi op die tafel hê.  Ek bak ook omdat die kragtigste deel van mens se herinneringe in jou smaak en reuksintuie sit. Ek bak om mense waarvoor ek lief is deur hulle resepte vir altyd te laat lewe.

MEER OOR KOKKEDOORTJIE

Kokkedoortjie

Na twee suksesvolle seisoene elk van Kokkedoor en Koekedoor brei kykNET die handelsmerk uit met Kokkedoortjie, ’n nuwe werklikheidsreeks vir kinders tussen die ouderdom van 9 en 13 jaar, wat in die Kokkedoortjie-stoor gaan kook en bak. ’n Nabye familielid (ma, pa, broer of suster bo 18, ouma of oupa) moet die jong deelnemer vergesel en vorm deel van die kompetisie.

Die twee beoordelaars vir die 13-episode-reeks is Sjef Nic van Wyk van Kokkedoor-faam en Mari-Louis Guy van Koekedoor.

Inskrywingsvorms word ingewag en sluit op 8 Augustus, waarna oudisies van 23 tot 26 Augustus in onder meer Kaapstad en Johannesburg gehou word. Kokkedoortjie word van 30 September tot 8 Oktober tydens die skoolvakansie in Kaapstad geskiet.

Die opwindende nuwe reeks, met sy sterk klem op vermaak vir die hele gesin, word vervaardig in opdrag van kykNET deur Homebrew Films, wat ook Kokkedoor en Koekedoor vervaardig.

Lees meer oor Kokkedoortjie hier.

The post Koekedoor het nuwe bakliefling – en ’n kuiken skrop in die stoor appeared first on Kyknet.

Kokkedoortjie: Skryf só in

$
0
0

Jong kos-entoesiaste en -foendi’s in die land, skuif nader: dis tyd vir Kokkedoortjie – kykNET se nuwe werklikheidsreeks vir kinders tussen die ouderdomme van 9 en 13 jaar.

Aan die stuur staan die geliefde Koekedoor-beoordelaar Mari-Louis Guy en die Kokkedoor-staatmakersjef Nic van Wyk.

Koekedoor

Mari-Louis Guy

Kokkedoortjie

Nic van Wyk

Dis vir húlle wat daar weekliks beïndruk sal moet word om te verseker dat jy as die heel eerste Kokkedoortjie aangewys sal word.

Elke Kokkedoortjie sal ook ’n ma of pa, ouma of oupa moet saambring, wat nie net as chaperone sal dien nie, maar ook as kos-inspirasie, en ook kook- en bakmaat in een of twee van die uitdagings! Maak dus seker jy kies jou familielid báie goed en uiters versigtig.

Aanlyn-inskrywings is moontlik op die kykNET-webwerf (sien hier onder), of maak kontak met Liezel Loubser by Homebrewfilms (liezell@homebrewfilms.tv of 021 4223452) vir meer inligting.

Julle albei moet beskikbaar wees vanaf 30 September 2016 tot 8 Oktober 2016 om in Kaapstad te verfilm aan die reeks (alle reis en verblyf sal voorsien word).

Inskrywings is nou oop tot 8 Augustus 2016.

SKRYF IN

Laai die inskrywingsvorm hier af: Kokkedoortjie Inskrywingsvorm

Klik hier vir die reëls en voorwaardes: Kokkedoortjie Terme en Voorwaardes

Kyk uit vir meer inligting op die kykNET-webwerf en op kykNET se Facebook-blad.

The post Kokkedoortjie: Skryf só in appeared first on Kyknet.

Koekedoor: Finaal – Die Troukoek

$
0
0

In Koekedoor-tradisie word die finaal beklink deur die koningin van gebak, die koek der koeke: die troukoek.

Die geleentheid is ’n troue in Tulbagh, die “Land van Waveren”. Waar die Koekedore tot dusver hul eie stempel op die skeppende pronk-uitdagings kon afdruk, moet hulle dié week die wense volg van die bruid waarvoor hulle die koek bak.

Die koek moet ook inpas by die troue se tema: “Die Kaap is weer Hollands”. Só is die beoordelaars op soek na ’n tradisionele wit koek met Delft-inspirasie en ’n spatsel kleur.

Toe hy ‘troukoek’ hoor het hy homself “asvaal geskrik,” sê Wessels, wat nog nooit gewaag het om ’n troukoek te bak nie. Die Koekedore, wat 34 uitdagings agter die rug het, het twee dae om die uitdaging te voltooi.

Corli se ma, Ria, meen dis mooi om te sien hoe Corli haar ouma ken in alles wat sy aanpak. Aan Wessels se kant is dieselfde waar. Hy vertel hoe hy wou leer lees sodat hy kon weet wat sy ouma neerskyf, “sodat ek dit kan bak.”

Corli bou ’n “Parys-toring”. Sy maak onder meer botterkoek, vanielje-sponskoek, klapperkoek, suurlemoen-en-jogurtkoek (spesiaal vir Tannie Elizabeth), ’n sout-karamel-vulsel en lemmetjiestroop, en trek die vyf lae van haar troukoek oor met wit fondant. Sy kies lemmetjiegroen as haar spatsel kleur.

“Hoe gaan ek kophou?” sê sy.

Corli is vir hom “gevaarlike kompetisie”, sê Wessels, maar hy dink hy kan haar op ’n paar gebiede klop. “Waar sy amper perfek is, is ek ’n bietjie mal,” sê hy.

Hy kies ’n verfkwas bo ’n spuitsak, om Delft-teëltjies mee te verf. Geel is sy blapsie kleur, en hy bak onder meer suurlemoenkoek, grenadellakoek, witsjokolade-en-frambooskoek, ’n Jack Daniels-koek en klim weer “terug op die perd” met die génoise-sponskoek wat hulle in die vorige episode moes bak.

Kyk hier onder na die foto’s:

Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Finaal25 Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor

Dit voel vir haar asof hulle vandag van die een stasie na die ander dans, sê Corli. Dan werkskaf sy hier, en dan weer daar – en sy lag wanneer Wessels die tyd het om sy laaste koppie tee in die stoor te drink.

“My ouma sê ek is ’n hans Khaki,” sê Wessels. Corli sê: “Nou het ek alles in hierdie stoor gesien!”

Dis net Corli se roomyskoeke wat omval, spot Wessels. Corli meen hulle twee het ’n gelyke kans om te wen.

Hier en daar is daar oomblikke wat die Koekedore twyfel. Corli se fondant skeur en Wessels se tyd vir versier hardloop vinnig uit.

Al waarin hy belangstel is om ’n koek op die tafel te kry, sê Wessels. Dié koel en kalm Koekedoor gesels min, en dít ontsenu Corli effens.

“Ek was nog nooit in my lewe so gespanne nie,” sê Corli. Sukkel jy soos ek? vra sy. “Jy het geen idee nie,” sê Wessels. Sy koek het “haelskade”.

“Niemand wil tweede wees nie, maar tweede is beter as derde,” sê hy.

Dan, so vinnig soos wat die baktyd omgevlieg het, swaai die kerk se deure oop en word dit tyd vir die Koekedore om hul plekke voor die kansel in te neem. Maar eers is daar ’n verrassing: Corli en Wessels se naastes is in die stoor om die pad kansel toe saam met hulle te loop.

Die beoordelaars is dit eens dat die skoonheid in Corli se koek aan die buitekant lê, en by Wessels aan die binnekant.

Dan breek die oomblik van waarheid aan. Dit was ’n fees gewees om te kyk hoe dié twee Koekedore bak, meen Tiaan.

Mari-Louis sê: “Corli, jy gee nooit op nie en ’n mens kan dit sien in jou gebak – dis pragtig.

“Wessels, jy is die oorspronklikste mens wat ek ken!”

Die wenner gaan huis toe met R200 000 kontant, ’n nuwe Suzuki Ciaz-sedanmotor en ’n begeerlike kookboekkontrak met Human & Rousseau. Rolkem Akademie en Capsicum Culinary Studio borg ook ’n suikerkuns-kursus van R50 000 vir die wenner.

Die naaswenner kry R50 000 kontant van Safari Dried Fruit, en Kenwood-toerusting ter waarde van R20 000, asook ’n suikerkursus ter waarde van R35 000.

Daar kan net een wenner wees, en ná 35 uitdagings kondig Tannie Elizabeth die nuwe Koekedoor-kampioen aan: Corli!

LEES: Koekedoor kry nuwe bakliefling

EKSKLUSIEF: Ons gesels met Corli

EKSKLUSIEF: Ons gesels met Wessels

EKSKLUSIEF: Ons gesels met die beoordelaars

The post Koekedoor: Finaal – Die Troukoek appeared first on Kyknet.

Viewing all 357 articles
Browse latest View live