Quantcast
Channel: Nuus – Kyknet
Viewing all 357 articles
Browse latest View live

Koekedoor: Dis Kersfees!

$
0
0

Elke dag in die Koekedoor-stoor is ’n gróót dag, maar vandeesweek word die belangrikste dag gevier – Kersfees!

“Koekedoor-Kersfees,” sê Corli. Meer as een Kersfees is mos nie oorbodig nie.

Mari-Louis se ouma het altyd ’n klein houertjie kondensmelk vir Kersvader gelos. Dan het jy gewéét dis Kersfees! Sy pik ’n traantjie weg wanneer sy aan haar kinders dink.

Kerfeesgees loop hoog, en die grootste geskenk wat die deelnemers vandag kan ontvang is die nuus dat niemand dié week die stoor gaan verlaat nie.

Op die spel vir die wenner is hout-kombuistoerusting ter waarde van R10 000 van My Butchers Block én Lekkeslaap-geskenkbewyse van R15 000.

Die tyd om Kersfees te hou is nóú en die Koekedore spring weg met hul eerste uitdaging: eetbare koekies vir geskenke of versiering.

“Dié koekies is moeilikheid soek,” sê Wessels. Die tuisgebak-uitdaging roep herinneringe op aan kleintyd op die plaas, koffiekoekies bak saam met Ouma en waatlemoen eet op die grasperk. Hy bak koffiekoekies en hawermoutstafies.

Kanya se skoonma “ís Kersfees”, sê sy. “Sy dra Kerfees-rokke, sy sit Kersfees in haar ore, sy dra Kersfees-borsspelde en ek dink sy sing ‘Jingle Bells’ omtrent die hele tyd. Sy is net Kersfees-moeder.”

Sy bak speserykoekies en Duitse koekies, ’n swart en wit gebak.

Sanet se ouma het Kerstyd ingelui met Kersliedjies op die klavier, en die kinders het altyd rondom haar gesit terwyl sy die klawers getokkel het en saamgesing. “Ons doen dit tot vandag toe nog.”

Koekies met witsjokolade-splinters, ’n taai koekie, is haar gunsteling, en sy voeg neute en kersies by. Sy bak ook haar ma se “crunchies”.

Tara bak die sjokolade-en-bessie-koekies wat gewoonlik deel is van die geskenkpakkies wat hulle jaarliks saam met Kersete geniet. Sy maak ook speserykoekies en ongebakte koekies met witsjokolade, neute en malva- en Turkse lekkers.

Corli kies bros klapperkoekies, soetkoekies en sjokoladekoekies. “Smake waarvan ek hou,” sê sy. Wilandi bak gemmerkoekies.

Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Kers 13

Halfpad deur die uitdaging raak die Koekedore die pad byster. Kanya noem dit “die Kersfees van hel”, want “die degies rus nog” en nie ’n enkele koekie is al in die oond nie. “Die pad is duister,” sê sy.

Iewers elders in die stoor slaan Corli ’n paar vlamme dood. “Okei, so nou het ek ’n vuur gemaak in die kombuis.”

Sanet sê: “Ek het van die begin af gesê ek is nie hier om vriende te maak nie. Ek is hier om koek te bak.”

Wilandi sê: “Nóú raak die kompetisie taai. Een voetjie verkeerd, en jy is weg.”

Die fyngebak-uitdaging nooi die ware Koekedore uit om na die partytjie toe te kom. Vandag word hul Kerskoek-repertoire uitgebrei met gevulde speculaaskoek en keurig-versierde lebkuchen, ’n soort speserykoekie, om aan hul Kersbome te hang.

Tannie Elizabeth en Tiaan gesels oor vrugtekoek en vernuwing.

Haar tannie was ’n ruk in Holland, vertel Kanya, en het haar bekend gestel aan speculaas.

Sy gaan moet “spekuleer oor die speculaas,” sê Sanet. Die Koekedore moet die speculaaskoek vul met die geurige vulsel, wat ’n hele rits speserye bevat, en marsepein-balletjies.

“Ek gee op,” sê Tara terwyl sy sukkel om haar speculaaskoek van die werksoppervlakte af te kry.

Wilandi sê die oomblik wat sy voel sy het beheer moet sy wéét: “Chaos is op pad. Gróót chaos is op pad.”

Vir die pronkgebak-uitdaging is die beoordelaars op soek na ’n vrede-op-aarde Kersboomkoek. Hulle put inspirasie uit die Yule-boomstompkoek (of Bûche de Noël) se geskiedenis gaan terug na die Ystertydperk in Europa.

Sanet spring weg met ’n groentee-moskoek, gevul met sjokolade en gemmer. Wessels maak ’n somerbries-rol met suurlemoensmeer en pepermentee-roomys. “My woud is ’n somerwoud,” sê hy.

Wilandi maak haar eie dukkah en “sjokoladegrond”. Tara maak “klippe” van fudge en malvalekkers. Corli kies appelliefies en sitrus-likeur

Kanya kombineer die geure van sjokolade en salie. Sy vertel die antieke Asteke het sampioene geëet, en dít het hulle “op ’n stasie van ’n ander plasie geplaas.”

Dit dien dan ook vandag as inspirasie, en sy wil speel met die “magiese aspekte” van sampioene. Sy maak sjokolade-rolkoek en maak onder meer poeier van sampioene en dille.

Tannie Elizabeth meen die Koekedore het vandag ’n storm losgebak. Die deelnemers wat egter vandag steeds in die stoor gesukkel het, is Wilandi, Tara en Wessels. Sanet, Corli en Kanya het die beste gevaar en die Kerfees-koningin is Kanya.

Kyk Koekedoor, Donderdae om 20:30.

The post Koekedoor: Dis Kersfees! appeared first on Kyknet.


Vier is die nuwe drie vir kykNET se Suidooster

$
0
0

kykNET se gewilde Afrikaanse sepie Suidooster kry ’n vierde episode per week vanaf Julie.

Op Donderdag 7 Julie 2016 sal die bykomende episode vir die eerste keer uitgesaai word.

“Sedert die eerste episode van Suidooster in November verlede jaar, het kykers dadelik gesê hulle soek méér van die sepie, wat van die begin af sommer baie sterk op kykNET se kanale gewaai het,” sê Karen Meiring, direkteur van Afrikaanse kanale by M-Net.

“Ons het ook altyd geweet Afrikaanse TV-kykers gaan baie van Suidooster hou, maar die versoeke van kykers vir nog episodes het ’n stormsterk wind geword en kykNET het geluister.

“Daarom is vier die nuwe drie en gaan kykNET vanaf Julie ’n bykomende episode van Suidooster elke week uitsaai,” sê Karen.

Suidooster

“Met die Samsodiens, Octobers, Du Plooy’s, Gerbers en ander Ruiterbosch-inwoners wat nou meer in Suid-Afrikaanse huise gaan kuier, versterk kykNET sy premium-tydgleuf se kykgenot op Donderdae.”

Soos die huidige episodes van Suidooster sal die vierde episode ook om 18:00 op kykNET en kykNET & kie uitgesaai word, met ’n herhaling om 20:00 op kykNET & kie. Nog herhalings sal op ander tye plaasvind en ’n omnibus word op Sondae om 14:00 op kykNET & kie uitgesaai.

Die permanente akteurs in alfabetiese volgorde volgens voornaam is:

Abduraghmaan Adams, Cedwyn Joel, Danny Ross, Denise Newman, Gerwen Simon, Gideon Lombard, Greta Pietersen, Irshaad Ally, Jill Levenberg, Johan Botha, Marcel van Heerden, Marco Spaumer, Portia Joel, Simone Biscombe en Theresa Sedras.

Suidooster word deur Suidooster Films in Kaapstad by Atlantic Studios vervaardig.

The post Vier is die nuwe drie vir kykNET se Suidooster appeared first on Kyknet.

Koekedoor: ’n Boomkoek vir Afrika

$
0
0

Die Yule-boomstompkoek (of Bûche de Noël) is nie iets wat algemeen bekend is in Suid-Afrika nie – ook nie aan die Koekedore nie.

Die deelnemers het egter almal verras met die manier waarop hulle dié Europese gebak in eg Suid-Afrikaanse skeppings omtower het. Dink maar aan Wilandi se Afrikabos-kleure en Kanya se magiese sampioen- en salie-geure.

boomkoek

Kanya se boomstompkoek

Wil jy ook ’n rolkoek vir Afrika aanpak?

Die Koekekoor-span het gaan kers opsteek by Dave Pepler, die omgewingskundige en aanbieder van kykNET se Groen, oor watter inspirasie Suid-Afrika se eie inheemse woude vir die koekbakker kan bied.

“Die eerste gedagte wat opkom as ek aan ons inheemse woude dink, is die alomteenwoordige teenwoordigheid van varings en rakswamme,” sê Dave.

Hy meen die land se inheemse varings is verruklik mooi – en sluit in alles van die Adiantum capillus-veneris, (die hare van Venus) tot hemelse boomvarings.

“En by rakswamme dink ek aan wedergeboorte – uit humus van die gevalle boom kom daar nuwe lewe, in kleur en argitektuur, soos dié van korale. Die name alleen is suiwer poësie – loodglansswam, kalkoenstert, bloosrakswam, heksebotter en Judasswam.

“Vergeet van blomme, vergeet van blare, want hulle is bestem vir die kroondak. Dink mos, dink saggroen, dink argitektuur.”

Probeer gerus Wilandi se resep hier.

Kyk Koekedoor, Donderdae om 20:30.

The post Koekedoor: ’n Boomkoek vir Afrika appeared first on Kyknet.

Innibos 2016 is in sy tienerskoene

$
0
0

Die Innibos Laeveldse Nasionale Kunstefees het sy kinderskoene ontgroei en vier vanjaar sy 13de bestaansjaar met die gepaste tema #Droom Groot.

Dertien jaar gelede het dié fees juistement ontstaan uit ’n hoopvolle droom van ’n handvol mense tot die gewildste kunstefees in die land (kykNET Fiësta-toekenning).

Daar word egter nie op die louere gerus nie, soos die feesprogram vir vanjaar getuig.

Innibos is vanjaar van Woensdag, 29 Junie, tot Saterdag, 2 Julie. Daar is ’n stewige aanbod van 27 produksies, insluitend die kykNET Kos-crawl, die Sappi Boeke-crawl en Woorde Innituin, wat eie aan die fees is. Oudergewoonte beloof die musiekkonserte op die hooffeesterrein vermaak deur topkunstenaars.

Op die planke

Vyf toneelproduksies debuteer by Innibos. Die vrou uit die see is ’n Henrik Ibsen-drama vertaal deur Hugo Taljaard met Henry Mylne as regisseur. Die groot rolverdeling sluit in gerekende akteurs Jana Strydom, Neels van Jaarsveld, Eric Holm, Kaz McFadden, Amalia Uys, Theodore Jantjies, Natasha Dryden en Gavin van den Berg en die produksie is moontlik gemaak deur die ondersteuning van die Dagbreek Trust.

Die ander debuuttoneelproduksies is Pa maak vir my ’n vlieër Pa deur Chris Barnard, Ooms deur Chris Vorster, Die ontelbare 48 deur Wessel Pretorius en Hond deur Dana Snyman, spesiaal geskryf vir Frank Opperman.

Komedies voer die bo-toon met Die wagkamer (Elize Cawood en Wilson Dunster), Groet die Grotheld (Cobus Venter), Twee susters (Chris Vorster en Hennie Jacobs) en My briljante egskeiding (Anthea Thompson onder regie van Hennie van Greunen).

Daar is ook die onderskeie vertonings deur skerpsketsers Schalk Bezuidenhout en Jonathan van Radio Raps, en die klugte Hond se gedagte, Daa’ gaat die bruid en Twee vir die prys van een.

Ernstiger dramas sluit in Blou-blou deur Erik Holm, dramaturg Athol Fugard se People are living there, en Plant vir my ’n boom en André deur Deborah Steinmair, met Erik Holm en Tinarie Van Wyk Loots.

Die musiekproduksies bied ’n wye keuse. Chris Chameleon en Daniella Deysel is in Africana (dis)seksie, pianis Rocco de Villiers speel geestelike musiek in Beautiful, Beautiful Hymns – pas bekroon met ’n Ghoema-toekenning – en in Klassieke Keur is die sopraan Sibongile Mngoma onder andere te hoor. Voorts is daar die musiekblyspel Heidi, die onwaarskynlike duo Karen Zoid en Kurt Darren in Kurt en Karen op klavier en die vertoning Eggo’s uit die grotte in die Sudwala-grotte met Corlea Botha, Joshua na die Reën, Michael Barrett en Tuks Camerata.

’n Sterbelaaide Standard Bank-hoofverhoog

Die musiekkonserte op die feesterrein is reeds tradisie tydens Innibos: Pak die kampstoele en ’n kombers of twee of kom dans jouself sommer warm op Woensdagaand, 29 Junie, by die Huisgenoot Afskopkonsert met Elvis Blue, Dewald Wasserfall, Kurt Darren, Nicholis Louw, ADAM, Joseph Clark, BlackByrd, Arno Jordaan, MoniQue en Ampie.

Vanjaar val die kollig Donderdagaand, 30 Junie, op die jonges van gees met die kykNET Rockkonsert. Dit is die hoogtepunt van die Innibos RockRumoer-kompetisie, waar die twee wen-bands dit gaan uitkap met gesoute rockers Karen Zoid, Kahn Morbee, Die Heuwels Fantasties, Francois van Coke, Black Cat Bones, Dan Patlansky, Albert Frost en Prime Circle.

Op Vrydagaand, 1 Julie, is die kykNET Konsert met Riana Nel, Adam Tas, Emo Adams, Gerhard Steyn, Jak de Priester, Juanita du Plessis, Dr. Victor & the Rasta Rebels, Willem Botha en Eden. Saterdagaand, 2 Julie, is die JacarandaFM Konsert met Bobby van Jaarsveld, Bok van Blerk, Karlien van Jaarsveld, Corlea Botha, Dozi, Jay, Lianie May, Joshua na die Reën, Snotkop, Sibongile Mngoma, Joe Foster, Ghapi, Jannie Moolman, Leah, Brendan Peyper en Charlize Berg.

Sondagaand is die ATKV-Loof Hom Innibos ’n gepaste afsluiting vir die feesweek met Juanita du Plessis, Lindi Strydom (seremoniemeester), Onbeskaamd, Anders, Rouchelle Liedemann, Adam Barnard, Renee Kruger, Ruan en Franja du Plessis, Steyn Fourie en Elvira Kohn.

Innibos Innibos Innibos Innibos Innibos

Boekevat

Die Sappi-boekecrawl is vanjaar na die Sudwala-grotte waar Paul Eilers, Steffie le Roux, Werner Ferreira, Pieter Ganswyk Nel optree met Chriskras; Wessel Pretorius verskeie gedigte voordra uit die kanon van Afrikaner helde, legendes en mitiese figure; Natascha C en Henry-John Williams besin in kabaretstyl oor taal, waarna Marita van der Vyver en Elvis Blue met voorlesing en sang afsluit in die grot.

Op die ATKV-Boeke OppiStoep-program is boekgesprekke met Alexander Strachan (Brandwaterkom), Theuns Eloff (Wat nou, Suid-Afrika?), Amore Bekker (Hartstories), Dana Snyman (In die blou kamp) en Keina Swart (Die koms van die biblioteekbus).

Dié gesprekke is gratis by Stoep-restaurant in Sonpark.

Tydens Woorde InniTuin kuier Marita van der Vyver, al die pad uit Frankryk, saam met digter, kunstenaar en sanger Andries Bezuidenhout. Kabaret-diva Amanda Strydom tree ook op.

Visuele kuns

Vanjaar se feeskuntenaar is Nathani Lüneburg met ’n videokuns-installasie waarin sy droomwêrelde en realiteit teen mekaar afspeel in Droom Verlore.

Die ander deelnemende kunstenaars onder die kuratorskap van John Anthony Boerma is Eric Manganje, Samsom Mnisi, André Naudé, Vusi Beuchcamp, Clare Menck en Alex Hamilton. Die tentoonstelling is in die Banketsaal van die Nelspruit Burgersentrum.

’n Fees vir gesinne

Om asem te skep tussen dié talle aanbiedings kan feesgangers gerus ’n draai maak in die Boma Kuierteater waar gratis en kort toneelstukke opgevoer en kort onderhoude gehou word. Vir fliekvlooie is daar die gratis Bosbioskoop waar die Silwerskerm-wenners se flieks gewys word, en vir die kleinspan is daar deurentyd vermaak by die oppasdiens Apies-in-die-Bos.

Die Bosmôl is weer die koopmekka met talle stalletjies en daar is ses kuierverhoë, elk met ’n lang rits kunstenaars wat elke dag daar optree.

Toegang tot die feesterrein per persoon is R100 vir Woensdag en Donderdag (senior bugers slegs R50, slegs Woensdag), R150 vir Vrydag en R172 vir Saterdag. ’n Weekkaartjie kos R450. Toegang is gratis vir voorskoolse en laerskoolkinders.

Sitplekke in die goue sirkel kos ekstra, en is R75 (Woensdag), R100 (Vrydag) en R225 (Saterdag). Donderdagaand is daar geen goue sirkel nie.

Met dié propvol program is een ding seker: Innibos #Droom Groot!

Vir die volledige program of vir meer inligting, gaan na www.innibos.co.za of bel 013 741 5294 of 083 289 3823.

The post Innibos 2016 is in sy tienerskoene appeared first on Kyknet.

Innibos-RockRumoer-kompetisie: Rock vir die kroon

$
0
0

Innibos-kunstefees in Nelspruit bied vanjaar die eerste keer ’n landwye kompetisie aan vir bands om mee te ding.

Boonop sal die twee wen-bands die volgende aand deel wees van die kykNET Rockkonsert op die hoofverhoog met Karen Zoid, Kahn Morbee, Die Heuwels Fantasties, Francois van Coke, Black Cat Bones, Dan Patlansky en Albert Frost. Dít is cool.

En op daardie aand besluit die gehoor saam met die beoordelaars wie uiteindelik die wenners is. Ondersteuners van die finaliste moet dus seker maak dat hulle die fees bywoon, want hulle gaan letterlik voor die verhoog moet rumoer om seker te maak húlle gunsteling wen!

Die 10 band-finaliste wat sal optree tydens die Innibos RockRumoer-kompetisie op Woensdag, 29 Junie 2016 is: Backstage, Drywater, Held On Till May, Indigo Reign, Jonathan Peyper Trio, Out Cry, The Unknown, Tuin, Vintage Kings en Wit Kasteel.

’n Keuringspaneel bestaande uit bekende rockers soos Karen Zoid, Hunter Kennedy en ander rock-kenners sal twee bands aanwys waarvan een die volgende aand tydens die rockkonsert as die top-band uit die stryd van die snare sal tree met die wengeld van R25 000 in die sak. kykNET borg ook ’n musiekvideo vir die wenners.

Pryse sal tydens Woensdagaand se finale uitdunne toegeken word aan die beste sanger, die beste kitaarspeler, die beste tromspeler en die beste baskitaarspeler. Elkeen van dié wenners kry R1 000.

Innibos

Die Innibos Laeveldse Nasionale Kunstefees het sy kinderskoene ontgroei en vier vanjaar sy 13de bestaansjaar met die gepaste tema #Droom Groot. Lees meer.

The post Innibos-RockRumoer-kompetisie: Rock vir die kroon appeared first on Kyknet.

Junie bring verandering in Binnelanders

$
0
0

In Junie waai die winde van verandering baie sterk deur die gange van Binneland Kliniek – en niemand word gespaar nie.

Verandering is nie altyd maklik nie, maar dit hoef ook nou nie die einde van die wêreld te beteken nie. Gelukkig bring hierdie windjies ’n bietjie liefde, ’n magstryd of twee (wat op die spits gedryf gaan word) en heelwat verrassings!

Wimpie besluit dat, met die winter wat net om die draai lê, hy eerder ’n snoesige seisoen wil tegemoet gaan. Dit beteken natuurlik dat lepellê hoog op die agenda is – maar waar sal hy nou ’n sagte lyfie kry om sy lewe mee te deel? Gelukkig het sy kleindogter hom redelik touwys gemaak met die potensiaal van die kuberruim – en dít is dan nou net waar Wimpie besluit sy liefde ook gevind sal word.

Binnelanders

Terselfdertyd is Karli oortuig daarvan dat Mamma Jana ’n man in haar lewe moet hê, wanneer sy vir Jana betrap waar sy na haar troufoto’s loer. Karli is ook nie ’n kuiken nie, en wend haar ook tot die kuberruim om die perfekte man vir Jana op te spoor. Soos die noodlot dit wil hê beland Jana se profiel op Wimpie se kortlys, en kort voor lank is die oom oortuig daarvan dat Jana net maak asof sy hardekwas is – veral wanneer Wimpie voel hy het sy standaarde vir ’n lewensmaat bietjie verlaag.

Binnelanders

Gelukkig is dit nie die enigste kaggelvuur wat gestook word in Junie om die koue te verdryf nie – Danny en Adelyn se vurige onderonsies verander vinnig in ’n potensiële vryerige situasie. Die probleem is net dat een van die twee nie heeltemal seker is oor hulle gevoelens nie, en wanneer die liefdesvlam aangeblaas word deur spangees is die gort vinniger gaar as wat daar aanvanklik gedink is. Danny kry raad by Bronwyn en Lexi, terwyl Adelyn se span voltooi word deur die oorgretige Karli en Naomi. Hulle sê altyd wie nie waag nie, gaan nie wen nie – maar dit beteken ook nie dat jy jou vingers moet verbrand deur liefdesverklarings te maak in die hitte van die oomblik nie.

Binnelanders

Binnelanders se blonde bom, Ivanka Gouws, gaan vir kykers in die komende maand wys presies hoekom ’n mens nie met ’n meisie van Benoni moet sukkel nie. Dries is beslis nie in Pretoria vir klein DJ nie, en ’n mens kan maar net vir At blameer vir hierdie plofbare situasie. Ongelukkig vir At en Dries is Ivanka se lont net te kort wanneer dit kom by haar passie vir DJ se welstand, en selfs nie eers die polisie sal haar kan keer om nie haar dinamiet te wys nie.

Binnelanders

Iemand anders wat in die spervuur beland is Annelize Roux. Nadat die stof gaan lê het (na die drama met Eben) is dit Jana se beurt om die mat onder die kardioloog (en Hoof van Ongevalle) te ruk. ’n Paar vorms gaan bepaal of Annelize gaan aanbly as Hoof van Ongevalle, en dit is baie duidelik dat Jana nog altyd haar mes ingehad het vir dié dokter. Gelukkig – of is dit nou ongelukkig? – moet groot stappe deur die raad goedgekeur word, en dit is hier waar die grootste storm van die maand gaan los bars.

Met Jana en Rian aan die een kant, en die Koster-mans aan die ander kant, is dit Pippa Malherbe wie se stem die reeds delikate verhoudings in die hospitaal gaan maak of breek. Ongelukkig het Pippa baie meer as net raadsvergaderings, aanstellings en afdankings om oor bekommerd te wees! Rian beland in Ongevalle, en wanneer sy groot besluite moet neem wat die kwaliteit van haar man se lewe gaan bepaal, wend sy haar tot Conrad se oordeel. En almal weet reeds dat Conrad ’n sagte plekkie het vir die vrou wie se man se lewe hy in sy hande dra!

Binnelanders

Die vars briesies wat deur die gange van Binneland Kliniek begin waai in die middel en einde van Junie sal dalk help om die bedompigheid wat in die gange hang uit te sorteer.

Deon Visser (nuweling Pietie Beyers) gaan met die intrapslag vir Bronwyn en Karli deurmekaar maak. En wie sal nou nie so bietjie swak in knieë raak wanneer hierdie jongeling sy skitterende glimlag in jou rigting gooi nie?

Wilmien Deysel (nuweling Néna Butler) gaan die arme Pippa tref soos ’n warrelwind – maar wat is haar verbintenis aan dr. Annelize Roux? En hoekom lyk dit asof die kardioloog nie heeltemal gelukkig is met die opwagting van die arme Wilmien nie?

Junie kondig definitief ’n nuwe hoofstuk aan. Ons hoop maar net dat die winde van verandering nie in tornado’s van tragedie verander in Julie nie.

Kyk Binnelanders, weeksaande om 19:30.

The post Junie bring verandering in Binnelanders appeared first on Kyknet.

Leandie du Randt bied Slank aan vanaf Oktober

$
0
0

Die Binnelanders-aktrise Leandie du Randt is vanaf Oktober te sien as aanbieder van die nuwe gewigsverliesprogram Slank op kykNET.

Leandie is bekend vir haar rol as die vurige Ivanka Gouws in Binnelanders, maar het ook ’n rits flieks en ’n gewilde boek, Gemaklik in jou eie vel, op haar kerfstok.

“Ek is só opgewonde oor Slank,” sê sy. “Daar is geen program soos dit op die oomblik nie!”

Slank bied ’n revolusionêre benadering tot gewigsverlies en leefstyl-verandering. Dit kyk na 13 alledaagse mense van verskillende ouderdomme, agtergronde en uiteenlopende loopbane wat een ding in gemeen het.

Volgens Leandie is dit bemagtigend om deel van dié nuwe reeks te wees. “Dis ’n groot voorreg om al die deelnemers se journeys met hulle te deel!” sê sy. “Ek geniet die program, proses en span saam met wie ek dit skiet verskriklik baie.”

Kyk hier na ’n paar agter-die-skerms-foto’s:

Slank Slank Slank Slank Slank Slank Slank Slank Slank

Elke episode volg een kandidaat oor ’n tydperk van 3 tot 5 maande. Leandie bied ondersteuning, en klop ook aan by dokters en die deelnemers se familie en kollegas.

Dis ’n warrelwind-reis tot by die eindbestemming, en kykers kan die hoogte- én laagtepunte saam met die deelnemers ervaar.

Slank word vanaf Oktober op kykNET uitgesaai. Hou ons webblad dop vir meer nuus.

The post Leandie du Randt bied Slank aan vanaf Oktober appeared first on Kyknet.

The Voice is op pad – na kykNET NOU!

$
0
0

Die eerste reeks van die Suid-Afrikaanse The Voice-sangkompetisie was ongetwyfeld reeds een van dié musiek- en vermaakgebeurtenisse van die jaar. As jy dit misgeloop het of weer in die drama en opwinding wil deel, is daar goeie nuus: Vanaf 6 Junie kan jy naderskuif vir die heruitsending op kykNET NOU! (DStv-kanaal 146).

The Voice SA is die aansteeklike inheemse weergawe van ’n werklikheidsprogram wat sy oorsprong as The Voice of Holland gehad het en intussen suksesvol in 60 lande aangebied is. The Voice was ’n toptreffer in die VSA, Australië en die Verenigde Koninkryk, waar supersterre soos Adam Levine, Blake Sheldon, Christina Aguilera, Shakira, Pharrell Williams, Tom Jones, Rita Ora, Kylie Minogue, Joel Madden en Ricky Martin in die ikoniese rooi stoele plaasgeneem het om spanne van hoogs talentvolle sangers te kies en dan af te rig vir kompetisiekonserte waarna kykers vir die uiteindelike wenners stem.

Hier by ons is die eerste reeks van The Voice aangebied deur die sjarmante TV-persoonlikheid Lungile Radu en die gewilde, spitsvondige radio-omroeper Stacey Norman. Die afrigters was Karen Zoid, Kahn Morbee, Lira en Bobby van Jaarsveld. En of kykers nou vir #TeamKaren, #TeamKahn, #TeamLira of #TeamBobby ondersteun het, die reaksies op sosiale media het duidelik laat blyk dat al vier afrigters/spankapteine saam gesorg het vir topvermaak.

Maar dit was nie net hierdie vier sterre wat The Voice laat sprankel het nie. Dié reeks het verskeie inspirerende musieklegendes as gaste op die verhoog verwelkom – onder andere die Grammy-wenners Ladysmith Black Mambazo.

The Voice The Voice The Voice The Voice The Voice The Voice

Die opwinding is ook nog lank nie verby nie: Binne 48 uur na die uitreiking van die eerste The Voice SA-album asook enkelsnitte van die top-13-deelnemers, het die sangtalent van dié kompetisie koning gekraai op die Suid-Afrikaanse iTunes-treffersparade – sowel op die album- as enkelsnit-trefferslyste.

Richard Stirton se weergawe van die klassieke Simon & Garfunkel-treffer “Sounds of Silence” het die nommereen-posisie verower met Gavin Edwards se interpretasie van Coldplay se “Fix You”, kort op sy hakke, op nommer 2.

Almur Marais – “Stilfontein” vir sy vele aanhangers – het ook die iTunes-toptien binnegeskiet met sy weergawe van Alanis Morisette se “One Hand in My Pocket”.

G’n wonder dus dat Universal Music aangedui het hulle wil opnamekontrakte aanbied aan tien Voice-deelnemers nie. Twee van die topagt-deelnemers, Zoë Modiga en Thembeka Mnguni, het reeds by Universal geteken.

En nou kan jy terwyl jy op hierdie nuwe uitreikings wag, weer of ’n eerste keer, al die drama op kykNET NOU! ervaar en letterlik kyk hoe hierdie nuwe sterre gebore word.

Dis ’n wenkombinasie van nuwe en ikoniese talent – The Voice, vanaf 6 Junie, om 21:30, op kykNET NOU! (DStv-kanaal 146).

The post The Voice is op pad – na kykNET NOU! appeared first on Kyknet.


’n Seuntjie vir Getroud met Rugby se Altus

$
0
0

Getroud met Rugby, die sepie se Altus Theart en sy vrou, Zetske van Pletzen, het onlangs uitgevind hulle verwag ’n seuntjie (die paartjie se eersteling). Ons het met dié akteur gesels oor pa-wees en sy eie kinderdae.

Hoe het jy gevoel toe jy hoor jy gaan pa word?

Dit was seker die awesome-ste nuus wat ek al ooit gekry het! Maar ek moet bysê ek was ook nog nooit so nervous gewees nie – ’n Excited nervousness!

En toe julle hoor dis ’n seuntjie? Wat was jul eerste reaksie?

Ons het ’n paar “ouvrou-storie”-toetse gedoen vooraf om dálk uit te vind wat die geslag is en álmal het gewys dis ’n dogtertjie! So toe ons hoor dis ’n seuntjie, was ons soos: “Uhm… is jy seker?” Maar ons was báie bly om te hoor dis ’n seuntjie, want ons wou ’n seuntjie eerste gehad het! So nou is ons, my broer- en suster-hulle se eerstelinge almal seuntjies!

Het julle al gedink aan name?

Ons het begin dink aan dogtertjie-name! Maar ons is nou besig met die proses en is nog nie heeltemak seker wat ons hom gaan noem nie.

Waarna sien jy die meeste uit van pa-wees?

Die hele journey! Om dinge van myself en Zetske te leer ken wat ons nie van onsself geweet het nie. En natuurlik om saam hom te gaan bike ry, gholf en rugby te speel en net te sien hoe hy grootword!

Hoe gaan dit met Zetske?

Sy’s ’n yster en ’n trooper! Ek het altyd geweet sy’s ’n ongelooflike sterk vrou, maar sy verbaas my nou nog steeds elke dag! Sy is nou vir my mooier as ooit!

Wat is die beste en slegste deel van haar swangerskap?

Beste: Om saam met haar te groei en uit te sien na die volgende opwindende hoofstuk van ons lewens en te sien hoe Zetske blom in die awesome vrou wat sy is!

Slegste: Ek mis hulle nou soveel meer as ek byvoorbeeld weg is vir werk of iets en ek is nie by haar om haar te ondersteun en te sien hoe sy ‘groei’ nie!

Is die babakamer al gereed?

Daai is Zetske se afdeling! Ek sal al die handewerk doen, maar sy beplan alles. Sy’t al ’n mooi prentjie in haar kop van hoe dit moet lyk en ek kry solank my tools en verfkwaste reg!

Kyk hier onder na foto’s van Altus uit sy kinderdae:

Altus Theart Altus Theart Altus Theart Altus Theart

Hoe was jy as klein seuntjie?

Ek was gesien én gehoor! Ek was altyd iewers besig op my fiets in my Swart Kat-pakkie en kettie of op rolskaatse of skateboard saam met maatjies en was nooit voor aandete by die huis nie! En natuurlik was ek McGuyver, met my knipmes besig om plannetjies uit te figure!

Wat kan jy die beste van jou eie kindertyd onthou?

Die carefree lewe wat ons gehad het! Die buite in die straat of waarookal se speel, want dit was veilig! My BMX! Kattekwaad saam met my broer en maatjies! Verbeeldingryke avonture waar ’n besemstok in ’n swaard verander het en drake doodgemaak is! Junie-vakansies se Hentiesbaai-visvang-trips saam met my pa, my broer en die ‘manne’! Desember-see-vakansies by Swartvlei! Ma en Pa wat altyd (en nog steeds!) daar was met ’n pleister en ’n drukkie as ek my knie stukkend geval het! Pa wat nie één van my rugby- of krieketwedstryde gemis het nie!

Slegste herinnering?

Toe ons aan die einde van my standerd een-jaar Kaap toe moes trek na my pa se werk geskuif het.

Wat is die stoutste ding wat jy al gedoen het?

As kind wou ons ’n geldjie maak om iets mee te gaan koop, toe steel ons blomme uit ons bure in die straat se tuin en gaan verkoop dit weer terug aan hulle deur die bossie blomme by hul voordeur te los met ’n briefie wat sê: As jy die blomme wil hê, los asseblief R5. Indien nie, los net die blomme daar! Klokkie gelui en dan weggehardloop en gaan wegkruip om te sien wat gebeur. Ons het ’n ‘fortuin’ gemaak!

Wat kan jy nie wag om jou seun te leer nie?

Behalwe bike ry, gholf speel, rugby speel, fietsry, hoe om ’n boor en saag te gebruik, vis te vang, boomklim, kettie skiet… hoe om respek vir jou medemens te hê! ’n Deur vir mamma oop te maak. Om te kan jammer sê. Om dankie te sê! Om ’n ouboet vir sus te wees! As jy val, om weer op staan en weer te probeer! Om op te staan vir jouself! Om te deel met die maatjies!

Getroud met Rugby, die sepie is weeksaande om 18:30 op die kassie.

The post ’n Seuntjie vir Getroud met Rugby se Altus appeared first on Kyknet.

Koekedoor: Mikrobrouery, die swart nommer in die kas

$
0
0

In vandeesweek se episode van Koekedoor besoek ons die biertent. Mari-Louis en Tiaan was opgewonde om hul kennis van gebak met bier met ons te deel.

“’n Bier is nie meer net ’n bier nie – lankal nie meer nie,” sê Tiaan. “Deesdae is daar ’n baie interessante verskeidenheid van biere wat verkrygbaar is, veral die mikrobrouery-biere.” Volgens Tiaan het elke bier “sy eie gevoel en smaak”.

Mari-Louis is opgewonde oor die moontlikhede met bier in die bak van brood. “Gebruik craftbier, sit ’n baie sterk artisan-cheddarkaas daarby en jy het ’n hele ander smaakprofiel,” sê sy.

Tiaan verduidelik dat daar ’n verskeidenheid van tegnieke is om die tekstuur en smaak van ’n bierbrood aan te pas. “’n Bierbrood is eintlik ’n relatiewe eenvoudige ding om te maak, maar mense moenie die bierbrood onderskat nie.

“Die gis in bier is alreeds aktief en jy kan dus brood bak sonder gis. Die proses gaan waarskynlik langer neem en ek weet vir ’n feit dat hoe langer ’n proses neem, hoe beter die ontwikkeling van smaak en geur.”

Koekedoor

Volgens Mari-Louis bied bier ’n interessante smaakkomponent wat goed pas by enige gebak. “Omdat dit die dors les vind ek dat dit iets is wat jy by alles kan gebruik,” sê sy. “Dit is soos daardie swart nommer in jou klerekas – jy kan dit oral gebruik.”

“Baie koeke het deesdae bier in. Ek was onlangs gelukkig genoeg om die Guinnes-fabriek in Ierland te besoek. Hier het ons die wonderlikste geregte met bier gepaar – selfs koeke met bier in.

“Ek het gevind dat bier heerlik paar met sjokolade en ek self bak gereeld Guinnes-koeke met donkersjokolade,” sê sy. “Dit is absoluut heerlik.”

Tiaan vertel dat bier soortgelyk is aan wyn.“As jy dit eers proe en jy tel ’n spesifieke smaak op, soos byvoorbeeld heuning of fynbos, kan jy dit baie maklik saam met ’n kos bedien, of selfs ín kos gebruik.

“Goeie bier is soos goeie wyn,” sê hy. “Wanneer jy wyn in jou kos gebruik, is jou eindresultaat goed. Dieselfde behoort te wees met ’n bier – as jy ’n ordentlike mikrobrouery-bier in jou kos gebruik behoort jy ’n baie goeie eindresultaat te kry.”

Koekedoor

Volgens Mari-Louis besef wynboere deesdae ook die waarde van bier. “Wat nou gedoen word is dat bier in verouderde kratte, soos bourbon-kratte of wynkratte, gebou word en dit plaas ’n heel nuwe dimensie op die geure,” verduidelik sy.

Haar wenk aan amateur-bakkers by die huis is om die bier in die beslag in te meng net voordat dit oond toe gaan. “Omdat die beslag baie taai is, roer ek die bier in met die agterkant van ’n houlepel en plaas dit dan onmiddellik in die oond.

“As jy ’n crusty bierbroodjie wil hê, maak dan eers jou pan warm in die oond, haal dit uit, plaas jou deeg daarin en plaas weer terug in die oond.”

Tiaan se raad is om nie die beslag te veel te meng nie. “Bak eerder jou brood teen ’n effense laer temperatuur vir ’n langer tydperk, omdat dit ’n digter deeg is en iets wat nie rys nie.

“Omdat dit iets is wat jy meng en onmiddellik in die oond kan sit sou ek aanbeveel dat jy dit bak vir ten minste 45 minute na ’n uur om te verseker dat dit regdeur gebak is.”

Vandeesweek se fyngebak-uitdaging bestaan uit Mari-Louis se “pale toe”-biertjippietert met chakalaka-peuselneute en ’n bier-float. Kyk hier.

Koekedoor

The post Koekedoor: Mikrobrouery, die swart nommer in die kas appeared first on Kyknet.

Koekedoor: Welkom in die biertent

$
0
0

Rugby en bier gaan hand aan hand, en ná vandeesweek se episode is dit halftyd in die Koekedoor-stoor – net vyf bakkers bly oor.

Die Koekedore neem hul plekke in die biertent in, want vandág gaan alles oor bier en die geure wat daarmee saamgaan.

Die tyd om te skrum is nóú en die deelnemers spring weg met hul eerste uitdaging: bierbrood – ’n ode aan die lang geskiedenis wat bier en brood deel.

Corli maak ’n bierbroodjie met mielies, kaas en spek, Kanya kies die kombinasie van rooibos en heuning en maak ook konfyt met tamatie en geel soetrissie, en Tara gebruik biltong en sterk cheddar. Sy maak ook uiekonfyt.

Sanet gebruik peer en bloukaas en maak ook ’n broodjie met appel, sider en bokmelkkaas. Mari-Louis spot: “Jy word gediskwalifiseer, want van wanneer af is ’n sider ’n bier?”

Wilandi kies spek, slaan uiemarmelade aanmekaar en Wessels gebruik kaas, rooipeper en gekapte biltong. ’n Lewe sonder bier “is soos ’n jaar sonder rugby,” sê hy.

Klik hier vir eksklusiewe resepte.

’n Ontspanne kuierplek is die Koekedoor-stoor se biertent egter nie. In die fyngebak-uitdaging bring Mari-Louis verskeie bakneigings byeen met ’n tert wat fynproewers se oë sal laat rek, maar baie tuis is in die biertent: ’n “pale toe”-biertjippietert met ’n kors van gerookte bief-aartappelskyfies, pretzels en graanvlokkies, en ’n swartbier- en sjokoladevulsel.

Die spanning loop hoog, want chakalaka-peuselneute, tuisgemaakte grondboontjiebotter, roomys en ’n bier-float moet ook nog gemaak word.

Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Koekedoor Ep8 11

Kanya gee vir haarself “stilte voor die afskop” en Wessels lag wanneer hy die vreemde bestanddele sien.

Wat is die “mannetooisels” wat hulle moet oorstrooi? wil die Koekedore weet. Wessels meen dis pretzels. Tara dink dis iets soos ’n strooitjie met ’n snor.

Die tertvulsel wil eenvoudig nie stol nie, en Wilandi sukkel-sukkel en wikkel-wikkel op pad yskas toe.

Die pronkgebak is ’n bitter pil: pretzels. Die deelnemers kies elk ’n bier, en Tiaan verwag dat die pretzel en doopsous se smaakprofiel by die bier se mees prominente geure aanpas.

Kyk hier wat sê die beoordelaars oor bier en gebak.

Corli speel met pampoengeure (haar dogtertjie se bynaam is toevallig “Pampoen”). Sanet werk met piesang en kaneel, Kanya met koffie, roosblare en karamel en Tara met pomelo, kappertjies en wasabi.

Die kniewerk kry sommige van die deelnemers onder. “Dis soos om te stoei met ’n vark in ’n sak,” sê Wilandi.

Sy toor met beet en komyn en Wessels met grondboontjies, karamel en tropiese geure.

Die fluitjie blaas en die Koekedore hoor wie die meeste drieë gedruk het: Corli, Wilandi en Wessels. Wessels word as biertent-breker aangewys. Tara word die Koekedoor wat die stoor moet verlaat. “Sy’s ’n klein mensie met ’n verskriklike groot hart,” sê Wessels, en dit is moeilik om van haar afskeid te neem.

Kyk Koekedoor, Donderdae om 20:30.

The post Koekedoor: Welkom in die biertent appeared first on Kyknet.

MegaBoere benader nuwe horisonne

$
0
0

Na die sukses van die eerste twee seisoene van MegaBoere is dié reeks eersdaags weer terug op die kassie. Ons het met vervaardiger Wynand Dreyer gesels oor die nuwe aanbieder, Bun Booyens.

Volgens Dreyer handel MegaBoere oor meer as net die probleme wat Suid-Afrikaanse boere in die gesig staar. Die reeks slaag daarin om die beeld van landbou in die land heeltemal te verander en mense anders oor die bedryf te laat dink. .

Vir hom is ’n aanbieder van ’n program soos MegaBoere nie noodwendig die belangrikste entiteit van die produksie nie. “’n Program se inhoud staan die mense aan en dit maak nie saak wie dit aanbied nie,” sê hy.

Volgens Dreyer was dit ’n groot voorreg om saam met Piet Croucamp aan dié produksie te werk. Hy sê dat hy respek vir Croucamp het, maar dat daar opwindende nuwe horisonne op dié reeks wag.

“Piet is ’n man wat sy vakgebied ken en is gemaklik met mense. Dit was vir my ongelooflik om te sien hoe maklik en natuurlik Piet in die produksie kon vloei.”

Croucamp sal egter nie die nuwe seisoen van MegaBoere aanbied nie en het reeds tydens die tweede seisoen aangedui het dat hy nie vir ’n volgende seisoen beskikbaar is nie.

Volgens Dreyer hou Afrikaanse kykers van goeie inhoud wanneer hulle televisie kyk. “Hoewel hulle vermaak wil word, wil hulle ook ingelig word en nuwe kennis bekom. Dit is ook lekker om helde te sien, en ons megaboere is helde omdat hulle onder moeilike omstandighede suksesvol is,” sê hy. “Ek dink die sukses van Megaboere lê grootliks in die inhoud van die program en ook in die mooi prentjies wat ons vir die kykers wys.

“In die eerste seisoen het ons, byvoorbeeld, by Piet Karsten se boerdery op Kanoneiland gaan kuier. Kanoneiland is een van die grootste eilande op die Oranjerivier en Piet besit een van die grootste dadelboerderye in die suidelike halfrond. Min Suid-Afrikaners is bewus daarvan. Inteendeel, min Suid-Afrikaners weet selfs dat daar met dadels in Suid-Afrika geboer word. Dit is wat ons wil uitwys – dat daar werklik megaboere is Suid-Afrika is.”

Dreyer is opgewonde om te werk aan die nuwe seisoen. “Ons tradisionele borge het ’n hart vir landbou en daarom het hulle aangedui dat hulle graag betrokke wil wees by nog ’n reeks. Ons het besluit om Bun Booyens te nader as aanbieder omdat hy ’n deurwinterde joernalis is.”

Dreyer sê: “Omdat Bun ’n suksesvolle redakteur van WEG en Die Burger was, dink ek hy verstaan sy gehoor en is deel van sy gehoor.”

Verder sê Dreyer: “MegaBoere is ’n gesofistikeerde program met gesofistikeerde inhoud. Ons werk met ingeligte boere en die aanbieder moet daarby pas.

“Hy is ’n gemoedelike mens wat maklik met mense oor die weg kom. Hy is intelligent, lief vir stories en het baie kennis. Dit is ook belangrik dat hy deernis het.

“Omdat hy lewenservaring het, dink ek dat hy ’n aanwins tot die produksie sal wees,” sê Dreyer.

“Die program moet groei. Ons benader ’n nuwe fase met dié produksie en ’n nuwe aanbieder met ’n nuwe aanslag dui groei aan.”

Kykers word aangemoedig om die kykNET-webblad dop te hou vir meer nuus oor ’n volgende seisoen van MegaBoere.

The post MegaBoere benader nuwe horisonne appeared first on Kyknet.

Leef jou Reis se Gerrie deel sy reiswenke

$
0
0

Alles van Vitamien C en tegnologie (moet jy of moet jy nie?) tot by gemaklike skoene. Leef jou Reis-aanbieder Gerrie Pretorius deel sy reiswenke met kykers.

Kyk ook dié video, waarin Gerrie sy wenke deel.

1. Lees en doen navorsing oor jou bestemming. Soek vir flieks wat daar afspeel, kry ’n kookboek oor hulle kos en Google vooraf. Hoe meer jy weet van ’n bestemming, hoe meer waardeer jy elke oomblik wat jy daar is.

2. Pak lig (die goue reël). Waar moontlik probeer ek bloot met handbagasie en ’n lekker rugsak reis. Ek begroot gewoonlik ’n paar rand ekstra om ’n jean en ’n hemp of drie te laat was by die plek waar ek bly. Die gerief van ligter dra maak dit oor en oor die moeite werd.

3. Gemaklike skoene. Wanneer jy reis stap jy baie, so belê in goeie en gemaklike skoene. Ek dra omtrent net Salomon-tekkies – dit is lig, raak gou droog en lyk selfs goed by jeans as jy saans bietjie uitgaan.

4. Voor ek op die vliegtuig klim drink ek altyd ’n vitamien C-pil en ’n halwe Disprin. Die een om my immuniteit te boost en die ander om die bloed dun te hou vir die lang en baie sit. Ek vat ook altyd ’n breë-spektrum antibiotika saam (onthou jou doktersvoorskrif) en ’n gewone griepmengsel wat ek by die apteek koop!

5. Los jou inhibisies en kuier tussen die locals! En hierby hou ek elke keer, want dis by húlle wat jy hoor waar eet ’n mens goedkoop en wat is die weggesteekte juwele waarvan niemand weet nie. Ek het só al van my beste reiservarings gehad.

6. Bly plaaslik of in van die “nuwegenerasie”-hostelle. Baie ouer mense maak deesdae hul huise oop vir toeriste om hulle pensioen aan te vul en bied baie meer gasvryheid en waarde vir geld, met soms ook ’n ete op die huis. Baie hostelle is deesdae opgradeer en amper soos hotelle, maar met ’n kombuis waar jy jou eie kos kan kook en gaarmaak en sodoende spaar. Hier kry jy ook baie beter winskopies op besienswaardighede en museums of vervoerkaartjies. Die Meininger-hotel in Berlyn is ’n groot gunsteling.

7. Lughawens is vir my onsmaaklik en moeisaam. Ek probeer die pyn verlig deur gebruik te maak van die lugredery se sitkamers. Soms moet jy betaal daarvoor, maar met die gemak en gratis kos en drank bly dit die moeite werd. Lughawens is duur en sal jy verbaas wees om te sien hoeveel jy eintlik spaar en dan nog kan ontspan ook. By baie van hulle kan jy selfs ’n stort vang en ’n massering kry, en dan is jy weer reg vir die lang tog.

8. Maak gebruik van tegnologie. Baie stede het deesdae apps wat jy kan gebruik vir roetes, hetsy stap of ry, en om plekke van belang te besoek.

9. Vermy tegnologie. Soms is dit nodig om jou foon agter te laat en bloot ’n plek te geniet sonder ’n alewige gefotonemery en om dan heeltyd op Facebook te wees. Ek verstom my aan toeriste wat skaars ’n plek goed bekyk, die oomblik inneem en waardeer, maar eerder 50 foto’s neem en skaars dan die mooi gesien kry wat voor hulle afspeel.

10. Kies jou reismaats. Reis is duur en dit is nodig om dinge te doen wat ook vir jou lekker is –  al is dit bloot vir ’n halfdag in ’n antieke boekwinkel rondhang. Ek sê altyd as jy happy is met jou eie geselskap, is jy reg vir reis. Maak seker die persoon wat saamgaan gaan waarde tot jou reiservaring bydra, want reis is herinneringe vir ’n leeftyd.

Kyk Leef jou Reis, Maandae om 21:00 op kykNET.

The post Leef jou Reis se Gerrie deel sy reiswenke appeared first on Kyknet.

La’t Wiel se wiele is weer aan die rol

$
0
0

Die gewilde motorprogram La’t Wiel keer op 5 Julie 2016 terug na die kassie met ’n splinternuwe seisoen op kykNET.

Die program het die lig gesien vroeg in 2004, en gedurende die jare wat daarop gevolg het, het die span bykans 400 episodes vervaardig en duisende motors bestuur op amper elke kontinent.

Dít het gelei tot ’n groot groep lojale kykers en volgelinge. Dit was juis die La’t Wiel-kykers se honger vir motornuus en vermaak wat die vervaardigers oorgehaal het om ’n splinternuwe seisoen aan te pak.

Die nuwe seisoen is moontlik gemaak met die ondersteuning van die motorkoop-reus We Buy Cars, wat La’t Wiel en kykNET sien as die perfekte medium om hulle besigheid verder uit te brei. We Buy Cars is veral bekend daarvoor dat hulle dit maklik en veilig maak vir eienaars wat hul motors vinnig en sonder risiko wil verkoop, en hulle rol in die motorwêreld maak van hulle die perfekte vennoot vir La’t Wiel.

Soos vantevore word die nuwe seisoen deur Plan-C Produksies vervaardig, met Waldo van der Waal en Hannes Visser steeds agter die stuur van sake.

Beide Waldo en Hannes sal ook diens doen voor die kamera as die program se aanbieders, tesame met die bekende gesig van Andre Weideman, wat van tyd tot tyd insetsels uit die Kaap sal aanbied.

La’t Wiel

“Ons is baie opgewonde oor die geleentheid om weereens La’t Wiel se wiele aan die rol te sit met ’n splinternuwe seiseon,” het Van der Waal gesê. “En om by te bly met die tye sal die nuwe La’t Wiel ook heelwat anders daaruit sien. Die hoofbestanddele is steeds ’n kombinasie van motors en vermaak, maar die res kry ’n heel nuwe gevoel met korter en meer kragtiger insetsels”.

Die program het oor die jare verskeie toekennings ontvang en beide Visser en Van der Waal is al ’n paar keer as wenners in die televisie-kategorie aangewys van die Gilde van Motorjoernaliste se jaarlike kompetisie om die land se voorste motorjoernaliste te vereer.

“Vir die nuutste seisoen het ons die resep so effens aangepas. Ons gaan steeds tyd spandeer agter die stuur van peperduur weelde en sportmotors terwyl ons rubber brand en goed aanvang soos landspoedrekords probeer breek, maar ons gaan ook aandag gee aan meer relevante onderwerpe soos wat mens deesdae kan koop vir jou geld,” het Visser bygevoeg.

La’t Wiel

Hannes Visser

Verfilming van die nuwe seisoen, wat vroeg in Julie afskop, is reeds fluks aan die gang. “Daar behoort iets te wees wat elke tipe kyker se aandag behoort te trek,” het Visser verder uitgebrei. “Ons bestudeer alledaagse rygoed wat meeste mense kan bekostig, ons bestuur sportmotors wat net vir ’n paar mense beskore is, ons berei die slagveld voor vir die oorlog wat broei tussen Suid-Afrika se beste bakkies, en ons woon ’n paar splinternuwe motors se bekendstellings by”.

Hou kykNET se webblad dop vir meer nuus oor die nuwe seisoen van La’t Wiel.

The post La’t Wiel se wiele is weer aan die rol appeared first on Kyknet.

Vaughan verwelkom eersteling

$
0
0

Die sanger Vaughan Gardiner en sy vrou, Nerine, het op Maandagaand hul eersteling verwelkom.

Vaughan het omstreeks 21:30 op sy Facebook-blad gesê: “Ameline Françoise Gardiner. Ons het ’n lang pad gestap om jou te ontmoet en dit was elke tree en elke traan werd.”

Kykers was gelukkig genoeg om dieselfde week nog ’n sonar-foto van Vaughan se pienkvoete op die gewilde musiekprogram Top 20 te sien. “Ek dink hier het ons net uitgevind dat dit ’n babadogtertjie is,” het hy vertel.

Vaughan se nuwe musiekvideo vir Bou aan liefde, die amptelike temalied vir die nuwe Afrikaanse fliek Uitvlucht, is onlangs op Jukebox bekendgestel.

Kyk die musiekvideo weer hier onder:

The post Vaughan verwelkom eersteling appeared first on Kyknet.


Deon Opperman: Só is saadjie vir Fluiters geplant

$
0
0

Fluiters, die splinternuwe kykNET-reeks uit die gerekende skrywer en vervaardiger Deon Opperman se pen, bied aksie soos wat kykers nog nooit in hul moedertaal beleef het nie.

Bibi Slippers het met Deon Opperman oor Fluiters gesels:

Die volledige artikel is in die jongste uitgawe van kykNET se digitale tydskrif, Digityd, beskikbaar. Lees dit hier.

Deon het 13 weke lank aan die reeks geskryf – een episode per week. Op Maandae het hy die intrige uitgewerk, en dan van Dinsdag tot Saterdag elke dag soos klokslag een bedryf geskryf.

Lees ook: Fluiters: Die helde en die boewe

Hy het ook ’n MOOC (Massive Open Online Course) in Python-programmering deur die Michigan State University gedoen sodat hy visuele materiaal kon skep wat presies by die teks inpas en kykers help om te volg wat in die rekenaar se brein en in die storielyn gebeur.

Hoewel dié reeks heeltemal anders is as sy vorige werk, is daar een tipiese Deon Opperman-kenmerk: Dis geskryf vir die gehoor. “Ek wil hê die kykers moet saam met die karakters op reis gaan en dan sê: ‘My maggies!’ ”

Op hierdie reis wil Deon mense blootstel aan sy eie groot belangstelling: die makro-ekonomie en internasionale politiek.

Waar Hartland, Donkerland en Bloedbroers met Afrikaner-identiteit geworstel het, gaan Fluiters eerder oor groter internasionale magte en kragte wat ’n invloed het op ons daaglikse bestaan. Dit gaan oor kwessies van vryheid en privaatheid en oor die rol wat tegnologie hierin speel.

Die onthullings deur die Amerikaanse fluitjieblaser Edward Snowden oor die Amerikaanse regering se Big Brother-agtige waarneming van gewone burgers het hom aan die dink gesit, en só is die saadjie vir die reeks geplant.

Kyk: Jozua Malherbe, die regisseur en kinematograaf van Fluiters, gesels met ons. Klik hier vir deel 1, en hier vir deel 2.

Fluiters Fluiters Fluiters Fluiters Fluiters Fluiters Fluiters

“Alles in Fluiters is gegrond op die werklikheid. Die gehoor leer saam met die karakters oor dinge soos die deep web, Bitcoin, SecureDrop-sites en meer.”

Hy wil hê mense moet oor dié goed dink, want dit maak saak. “As ek totaal sinies was, het ek ophou skryf. Iemand het eenkeer vir my gevra: ‘Waarom doen ons die moeite om kuns te maak? Waarom?’ Want, het ek geantwoord, as ons dit regkry om selfs net één mens se lewe aan te raak, en selfs net ’n klein effek kan hê op die manier waarop hulle na die wêreld kyk – sodat hulle dieper kyk en beter kyk – dan het ons ons tyd góéd gebruik.”

Kyk Fluiters, Dinsdae om 20:00 op kykNET.

The post Deon Opperman: Só is saadjie vir Fluiters geplant appeared first on Kyknet.

Koekedoor: Gebak met bier

$
0
0

In verlede week se episode van Koekedoor was die fokus op die moontlikhede van bier in gebak. Tannie Elizabeth het met ons gesels oor bierbroodjies en tradisionele gismetodes.

Volgens haar was gis in haar kinderdae soms onverkrygbaar. “Ons het nie die droë gis gehad soos wat ons dit vandag ken nie. Jy kon slegs in dorpe koekies gis koop maar as jy dit te lank laat staan het, het dit tot niet gegaan.”

Sy vertel: “Toe ek pasgetroud is, het ons vir ses jaar op ’n plaas in Frasenburg gewoon. Hier het ons gewoonlik aartappeldeeg gemaak om brood mee te bak.”

Dié deeg, volgens haar, kan gebruik word as suurdeeg. “Jy het water gekook, ’n bietjie laat afkoel en dan ’n bietjie van jou meel daarby gegooi. Dan het jy jou aartappels opgesny en bygeklits met ’n vurk, dit lekker warm toegemaak en oornag laat staan,” sê sy.

“Ek het dit gewoonlik langs die Aga-stoof laat staan. Die volgende oggend wanneer jy opgestaan het, was daardie kastrol langs die stoof vol gerys en jy kon jou brood bak.”

Sy sê dat dié suurdeeg wonderlik is as jy ’n gewone brood wil bak. “Dit was heerlik, want dan maak jy vars brood en sommer so paar vinnige broodjies in die oond vir ontbyt.

“Al was gis daardie tyd onverkrygbaar, het die planne wat die boervrou gemaak het vir heerlike gebak gesorg.”

Koekedoor Bier 3

Vir tannie Elizabeth is bierbroodjies egter baie uniek weens die smaak wat jy kry met die gebruik van bier. “Bier gee ’n baie besonderse smaak. Dit gee ’n smaak wat jy nie op enige ander manier kan kry nie.

“Ek het altyd baie eenvoudige bierbroodjies gemaak, maar het ook later besef dat mens met geure kan speel om dit nóg lekkerder te maak.

“’n Bierbroodjie is ’n tradisionele broodjie wat eintlik goed gaan saam met ’n braai, en daarom moet hy tog daardie biersmaak hê,” sê sy.

“Ontbytspek en kaas gaan heerlik saam met ’n bierbroodjie. Ek maak die spek egter eers bietjie gaar, want die vetstukkies is geneig om rou te bly.” Probeer gerus Corli se bierbrood met mielies, kaas en spek.

Volgens tannie Elizabeth is dit baie belangrik dat ’n bierbroodjie onmiddellik in ’n warm oond geplaas word. “Ek noem dit ’n kitsbroodjie. Die deeg raak taai want sodra jy jou bier bygooi begin dit reeds in die pannetjie te gis en jy kan jou hele produk beskadig as jy nie gou genoeg werk nie.”

Tannie Elizabeth sê dat Tara ’n heerlike resep gehad het, maar dat sy die fout begaan het om nie haar bierbroodjie-beslag onmiddelik in ’n warm oond te plaas nie. “Eers nadat sy haar beslag in haar pannetjie gevoeg het, het Tara besef dat haar oond nie aangeskakel was nie en daarom het haar deeg gestaan. Omdat dit te lank gestaan het, het dit reeds begin rys en sy het baie luggate in haar eindproduk gehad.” Kry Tara se bierbroodjie-resep hier.

Koekedoor Bier 2

Vir amateur-bakkers by die huis is tannie Elizabeth se raad om dit eers eenvoudig te hou. “Neem jou resep en raak eers vertroud daarmee. Nadat jy sien hoe dit uit die oond kom, en wanneer jy vertroud raak met die ontwikkeling van die beslag, dan kan jy aan ander moontlikhede begin dink.

“Daar is sulke lekker geure waarmee jy kan speel wat ’n eenvoudige bierbroodjie sommer baie lekker kan maak.” Kry Kanya se bierbroodjie-resep hier.

Ons het verder met die beoordelaars gesels oor biergiere en die kombinasie van bier en gebak. Kyk die video hier.

Koekedoor Bier

The post Koekedoor: Gebak met bier appeared first on Kyknet.

Wen ’n BBP-ervaring saam met die Dis hoe ons rol-span

$
0
0

Dis hoe ons rol, ’n nuwe reeks met Zander Tyler, oftewel Jack Parow, en sy avontuurlustige vriend Hardus van Deventer, word vanaf 1 Julie op Vrydae om 21:00 op kykNET uitgesaai.

Op Woensdag 15 Junie gaan Zander en Hardus 20 gelukkige aanhangers die geleentheid gee om die Dis hoe ons rol-bekendstellingsgeleentheid in Johannesburg by te woon en eksklusief die eerste episode van die reeks te kyk. Dié aanhangers gaan ook die geleentheid hê om Zander en Hardus van nader te ontmoet.

Dis hoe ons rol

Al wat jy moet doen om ’n kans te staan om hierdie BBP-ervaring te wen, is om hierdie vorm in te vul. Diegene wat die skakel na die persverklaring deel op sosiale media en #DHOR en @kykNETtv gebruik, sal ’n addisionele inskrywing in die kompetisie kry.

Dis hoe ons rol is ook van 2 Julie af weekliks op ShowMax beskikbaar, so die hele wêreld kan saamkyk na Zander en Hardus se motorfiets-avonture!

Terme en voorwaardes

– Die kompetisie strek van 8 tot 13 Junie 2016.
– 20 Mense kan ’n BBP-ervaring by die Dis hoe ons rol-bekendstellingsgeleentheid wen. Die presiese tyd en plek sal aan die wenners bekend gemaak word.
– Wenners is self verantwoordelik vir vervoer na en van die geleentheid, sowel as vir verblyf, indien dit nodig is.
– Slegs Suid-Afrikaners mag deelneem.
– kykNET behou die reg om op kort kennisgewing die kompetisie te kanselleer.
– Indien die kompetisie gekanselleer word, is kykNET nie verantwoordelik vir die pryse of koste verbonde aan die kompetisie nie.
– Die kompetisie voldoen aan die vereistes van die Verbruikersbeskermingswet.
– Wenners word deur ’n kykNET-verteenwoordiger gekies.
– Dieselfde persoon kan net een maal wen.
– Die kykNET-verteenwoordiger se beslissing is finaal en geen korrespondensie sal oor die uitslag gevoer word nie.
– Ingevolge die Wet op Verbruikersbeskerming moet alle wenners hul persoonlike inligting aan ons verskaf om die pryse te mag opeis.
– Deur vir die kompetisie in te skryf, erken individue dat hulle al die bepalings en voorwaardes aanvaar.
– Wenners jonger as 18 jaar moet toestemming by hul ouers of voog verkry vir deelname.

The post Wen ’n BBP-ervaring saam met die Dis hoe ons rol-span appeared first on Kyknet.

Koekedoor 2-bakboek tref die rakke in Julie!

$
0
0

Met Koekedoor 2 se nuwe resepteboek, wat vanaf 20 Julie 2016 op die rakke gaan wees, is die pronkerigste gebak van die jaar binne die bereik van jou mengbak. Dié bakboek is geskryf deur Errieda du Toit, inhoudsvervaardiger: kos vir Koekedoor, en word uitgegee deur Human & Rousseau.

Net soos die kykNET-werklikheidsreeks vier die boek ons land se bakkultuur en bring die beste resepte uit die bakkompetisie bymekaar. Dis ’n unieke versameling van gebak met ’n familiegeskiedenis of sprankelnuut-skeppings. Inspirasie is gevind in Ouma se spens, Ma se koekblik en moderne plaasmarkies.

Die tuisgebak-trommel loop oor van broodpoedings, bierbroodjies, ongebakte koekies, vakansiekoekies en die geurigste vleispasteitjies. Bemeester manjifieke skeppings, funfettikoeke met verskuilde geheime, perskes- en-room-tiramisu, gourmet-oliebolle, sitrusterte en die asemrowende Brooklyn Blackout-sjokoladekoek.

Koekedoor 4

Daar’s manne-gebak so reg in beoordelaar Tiaan Langenegger se kraal, ballerina-fyn pavlovas, wat Mari-Louis Guy laat pirouette, en kombuisteetreffers wat Tannie Elizabeth Cloete beïndruk.

Volgens Du Toit het die beoordelaars se mening swaar geweeg, “want hulle het elke liewe gereg geproe.”

Die uitblinker-resepte is dus almal daar. Sy het egter soms resepte wat dalk nie so goed uitgevoer is nie ’n tweede kans gegee. “Ek het gekyk na ’n balans tussen tradisionele gebak en verbeeldingryke, trendy gebak,” sê sy.

“Die Koekedore het die kans om nuut en buite die boks (oftewel die koekpan) te dink behoorlik omhels deur vanjaar selfs groter, hoër, mooier, oorspronkliker, meer gewaagd en uit hul gemaksone te bak as die vorige deelnemers – met uitstekende resultate (die rampspoediges het natuurlik nie die boek gehaal nie!).

“Die bakboek reflekteer enersyds die verbeeldingrykheid van die bakkers, maar ook – en vir ons deurslaggewend – ’n liefde vir ons gebakskatte uit die verlede en groot harte om hul bakgeheime te deel met ander.”

Human & Rousseau se Daleen van der Merwe, opdraggewende uitgewer, sê die bakboek is propvol nuwe en oorspronklike resepte. “Wat wonderlik van ’n kompetisie is, is dat deelnemers altyd poog om te wen en dus lewer almal net hulle beste. Dus die boek is propvol bestes!” sê sy. “Daar is te veel hoogtepunte om te noem, maar as ek moet dan is die ongelooflike pavlova-skeppings van die deelnemers en Mari-Louis se Operakoek sekerlik uitsonderlik.

“Die tweede boek het heeltemal ander resepte. Ook het ons meer foto’s van die deelnemers self ook in die boek geplaas. En die ontwerp is ook pragtig en elke hoofstuk is spesiaal aangepas by die program.”

Du Toit sê: “Die fotograaf Myburgh du Plessis, wat ook al die vorige Kokkedoor– en Koekedoor-boeke se ateljee-foto’s hanteer het, was weer ons keuse. Hy het ook die mooi publisiteitsfoto’s van die deelnemers geneem, asook die gesellige voorbladfoto waar die drie beoordelaars op ’n sitkamerbank regsit vir koek en tee.”

Koekedoor 2-bakboek

Sy vertel verder: “Ons het met Koekedoor 1 feitlik al die gebak se foto’s laat oorneem in ’n ateljee-opset. Met die skiet van Koekedoor 2 op Tulbagh kon ons, waar die logistiek en tydskedules dit toegelaat het, foto’s geneem het met die boek ingedagte. So is al Mari-Louis se fyngebak-uitdagings in die Koekedoor-stoor afgeneem.

“Die resepte vir die fyngebak-uitdagings is seker van die mees vooraf-getoetste resepte vir vernuwende gebak in die hele land. Eers is dit tydens die ontwikkeling van die resepte getoets deur Mari-Louis en haar broer, Callie Maritz. Daarna het die fynbakker op die stel – die bakboekskrywer Christine Capendale – dit hertoets in die Koekedoor-stoor met die toerusting en bestanddele presies waarmee die deelnemers sou bak.”

Du Toit en Van der Merwe is dit eens dat dié boek iets vir almal bied. “As jy reeds Koekedoor 1 se resepteboek het, is hierdie ’n wonderlike aanvulling, sonder dat daar duplisering is,” sê Du Toit.

Koekedoor het ’n fenominale invloed op die baklandskap op soveel terreine. Die vraag na bakprodukte het gestyg. Selfs bakwinkels en ander spesialis-plekke vertel hoe mense ingestroom het om ’n koekpan of ’n spesiale bestanddeel in die hande te kry na ’n uitsending.

“Mense wat ophou bak het, het weer begin bak omdat dit lekker is. Ons kry daagliks terugvoering van mense wie se lewens verryk is deur die program: ouma’s wat saam met hul kleinkinders bak; ma’s wat hul seuns leer bak; seuns wat hul pa’s aansteek om te bak; gesinne wat saambak. Selfs Riaan Cruywagen het vir ons geskryf om te vertel dat hy in die eerste keer in sy lewe begin bak het, na sy Koekedoor-ervaring. Nou bak hy verwoed worsrolletjies.

“Ek wens eintlik ons kon die klankbaan en musiek ook in die boek vasvang, want kykers was mal daaroor.”

Hoenderpasteitjies

Van der Merwe sê: “Daar is resepte vir onervare en ervare bakkers. Maklike en kort resepte en langer resepte, wat eerder meer tyd neem as wat dit regtig moeilik is.

“Bak is die nuwe mode – waar sjefs eers koning gekraai het is dit nou die bakkers en patisseri-sjefs. Televisieprogramme oor bak het natuurlik ’n groot rol gespeel. Spesilateitsbrood is oral beskikbaar en elke stad en dorp het deesdae ’n mark wat die heerlikste gebak verkoop.  Mense raak uitgekuier aan winkel-gebak en brood.”

Dis die beste geskenk vir iemand wat jy weet lief is vir bak, meen Du Toit. “As jy bly voel, gebruik die boek om bak. As jy lui voel, laat die boek jou aanspoor om te bak. As jy verlang, bak een van die goue-gunstelinge. As jy jou sente tel of ’n mylpaal vier, bak uit die boek uit.”

Vir al die Koekedoor-nuus, klik hier.

The post Koekedoor 2-bakboek tref die rakke in Julie! appeared first on Kyknet.

Hein roer die kuberruim-pot

$
0
0

Hein van Tonder. Foto: Verskaf

Die talentvolle kos-blogger en -fotograaf Hein van Tonder het die Koekedoor-stel tydens die verfilming van die kitsch-is-koel-episode besoek.

Die Koekedore moes onder meer formidabele filo-skeppings optower, wat Hein geïnspireer het om ’n heerlike appel-filotert vlerke te gee. Ons het met hom gesels:

Wie is Hein van Tonder in ’n neutedop?

Ek is ’n kosfotograaf en stilis wat op my gelukkigste is wanneer ek eet, reis en foto’s neem.

Vertel ons meer van die resepteboeke waarin jy al ’n deel gehad het.

Ek het verlede jaar aan ’n paar boeke deel gehad en die hoogtepunt was beslis Louis Janse van Vuuren en Hardy Olivier se boek Die Storie van ’n Huis, wat gaan oor hulle chateau La Creuzette. Ek het dié boek saam met my pel Francois Pistorius geskiet en ons was vir twee weke daar om aan die boek te werk. Ons het hard gewerk, maar dit het nooit soos werk gevoel nie. En ook te danke aan Hardy en Louis se gasvryheid was dit ’n absolute hoogtepunt van my loopbaan sover.

Jy deel gereeld resepte op jou blog, heinstirred. Waarna kan besoekers van jou blog nóg uitsien?

Daar is elke Maandag ’n nuwe resep op die blog. Die resepte wissel van uiters gesond na ’n hartaanval in ’n paar minute. Ek beplan eintlik baie min wat op die blog gaan kom – hoewel ek gewoonlik so ’n maand vooruit is met resepte wat geskryf en geskiet is. My inspirasie kom van orals af, maar ek werk aan ’n heerlike “bone broth”-resep, ek wil bietjie met miso (gefermenteerde sojaboon) speel (soet en sout) en my suurdeeg-voorgereg aan die gang kry vir lekker suurdeeg-wafels en crumpets.

Wie is die vyf mense wat jy die graagste vir ete sal wil oornooi en, belangriker, wat sal jy vir hulle voorsit?

Dit sal almal foodies wees, sodat ons net oor kos kan praat en ons almal saam kan kook (so dit sal ’n moerse groot kombuis moet wees!).

Nigella Lawson – Ek dink sy moet ’n absolute jol wees.
Errieda du Toit – Ek kan vir ure na haar koskennis luister.
Olia Hercules – skrywer van my gunsteling-resepteboek, Mamushka.
Kamal Mouzawak – van Souk el Tayeb. Hy is my kos-hero sedert ons ontmoet het in Beirut so twee jaar terug.
Jennifer Rodda – my gunsteling-kos-blogger (Milk and Honey).

Ek dink mense eet die lekkerste wanneer hulle kos kan deel, so dit sal borde en bordjies wees van die lekkerste kos wat almal kan kombineer en eet op hulle manier – met klein sprietui-pannekoekies, tortillas, ens., om alles in te sit en te eet. Die wonderlike ding is dat jy elke keer ’n ander kombinasie maak en eet. I love that.

En dan tuisgemaakte roomys vir nagereg. Interresante geure soos lourier en karamel, ’n bierroomys en dalk ’n souterige roomys om met almal se minds te speel.

Jy kry belangrike gaste vir koek en tee en het minder as ’n uur om iets op te tower. Wat sal jy bak?

Ek hou dit so eenvoudig en lekker as moontlik: ’n suurlemoen- of appel-jogurt-koek.

Wat is die grootste flater wat jy al in die kombuis begaan het?

Haha, nie soseer in die kombuis nie, maar die mees onlangse een was ’n kort kos-video wat ons geskiet het in ’n sekere formaat. Dit was die laaste video wat ons moes skiet en ons moes dit twee keer oorskiet. Toe ons klaar was en alles mooi gewerk het, kom ek en my assistent agter die kamera – dit het opgehou opneem in die middel van alles. Ons het albei vir seker so 30 minute net gesit en nie ’n woord gesê nie.

Wat is die belangrikste kos- of bakwenk wat jy vir iemand kan gee?

Sout kort altyd ’n knippie of twee soet en soet kort altyd ’n knippie of twee sout.

Kos- en baktendense kom en gaan. Watter nuwe gier maak jou opgewonde?

Borrie! Ek love al die resepte wat ek sien met beautiful, vars borrie. En ek wens ons kan nou totsiens sê aan makrolletjies (macaroons). Dit maak nie saak wat die geur is nie – dit smaak steeds net na suiker.

Vertel ons van jou Koekedoor-stelbesoek – het enigiets jou verras? Hoe was dit en het jy iets geleer?

Dit was heerlik. Almal was so verwelkomend en dit was regtig lekker om te sien hoe so ’n klein span so lekker saamwerk. Die stel is ook ongelooflik mooi. En ja, dit is alles baie realisties ten opsigte van die tyd wat hulle kry om iets te doen, ens. Ek het glad nie die deelnemers ontmoet nie, maar ek het beslis van daai dag af my gunsteling om te wen!

Jy het onlangs ’n filotertresep op jou blog gedeel, Koekedoor-geïnspireerd. Vertel ons meer van dié resep en die kreatiewe moontlikhede wat filodeeg inhou.

Ek is nie die grootste fan van filo nie – ek vind die deeg maar baie oninteressant. Ek wou iets maklik maar baie lekker maak, en op die stadium het ek baie appels gehad en amaretti-beskuitjies in my kas. Dit was maar net een van daai oomblikke wat ek dit bymekaar gesit het in my gedagtes en toe gedink: ‘OK, dit kan werk’. Ek dink dis ’n heerlike resep en een van my gunstelinge op my blog. Kry die resep hier.

Heinstirred Heinstirred

Het jy enige raad vir mense tuis wat hul eie kos-blog wil begin?

Jy gaan baie meer skottelgoed was as wat jy ooit gedink het! Begin net, elke keer wat jy ’n post doen sal jy beter word en gemakliker voel. En blog gereeld – niemand wil ’n blog lees wat nie konstant nuwe resepte het nie. Wees net bewus die blog kry sy eie lewe en jy spandeer baie tyd daaraan – dit raak amper soos ’n tweede werk. Maar in dieselfde asem kan ek sê my blog vat my na plekke toe wat ek nie sommer sou gesien het nie en ek kry gereeld werkaanbiedinge van mense wat my blog sien. So dit is alles die moeite werd.

Volg Hein op Facebook en Twitter.

Koekedoor is op Donderdae om 20:30 op die kassie. Klik hier vir eksklusiewe resepte.

The post Hein roer die kuberruim-pot appeared first on Kyknet.

Viewing all 357 articles
Browse latest View live